Belasting op toegevoegde waarde (BTW) verhoog inderdaad nie meer nie, maar die brandstofheffing op petrol word van 4 Junie af met 'n enorme 16c per liter verhoog, en dié op diesel met 15c per liter.
Dit is die vernaamste verandering in die Mei-begroting wat verbruikers betref.
Die res van die begroting bly min of meer dieselfde as in Maart se begroting, behalwe dat die artikels wat in Maart as BTW-vry verklaar is, nie meer vrygestel word nie. Daar word dus steeds BTW gehef op blikkiesgroente, afval en suiweldrankies.
Die verhogings in die "sondebelastings" - aksyns op drank en tabak - en die tabelle vir persoonlike inkomstebelasting is onveranderd van Maart se begroting. Die verhoging in staatstoelaes is ook onveranderd van Maart.
Jan Taks raak taai
Maar 'n swaard hang oor Suid-Afrikaners se koppe, want Enoch Godongwana, minister van finansies, dreig dat hy in volgende jaar se begroting wel belastingvoorstelle sal moet indien om sowat R20 miljard ekstra in te vorder.
Dit is om te help vergoed vir die verlore R28 miljard wat met die Maart-begroting se mislukte belastingvoorstelle ingevorder sou word.
Daar is 'n grashalm van hoop. Volgens die tesourie sal die belastingverhogings van R20 miljard wat in die 2026-begroting beplan word, heel moontlik kan wegval mits die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) daarin kan slaag om sy skuldinvordering te verbeter.
Die SAID het in die afgelope boekjaar R95 miljard se skuld ingevorder.
'n Deel van die ekstra R7,5 miljard wat oor die volgende drie jaar aan Jan Taks gegee gaan word, gaan bestee word om hom te help om sy skuldinvordering op te skerp. Dit kan sy skuldinvordering na verwagting met tussen R20 miljard en R50 miljard per jaar laat verbeter.
Godongwana sê hy is vol vertroue dat die SAID sowat R35 miljard ekstra kan invorder. Dié potensiële inkomste is nie by die inkomsteberamings ingesluit nie.
Die SAID se vordering hiermee sal gemonitor word deur kontantinvorderings maandeliks na te gaan. As dit suksesvol is, sal die verhoging van belastings met R20 miljard in die 2026-begroting heroorweeg word, belowe die tesourie.
Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, het op die mediakonferensie voor die begrotingsrede gesê 500 ekstra skuldinvorderaars is al in April aangestel en opgelei, en nog 250 sal teen Junie aangestel word. Altesame word 1 700 bykomende invorderaars beoog.
Ekonomiese groei
Soos verwag, het die tesourie sy groeiverwagtinge vir die bruto binnelandse produk (BBP) vir die jaar aangepas.
Die ekonomie gaan na verwagting met 1,4% groei, pleks van die optimistiese 1,9% wat in Maart se begroting verwag is.
Dit is weens die internasionale onsekerheid en geopolitieke spanning, onder meer weens die handelsoorlog tussen Amerika en die res van die wêreld.
Die een gevolg van die laer ekonomiese groei is dat die staat se skuld-tot-BBP-verhouding nou verswak tot 77,4%, teenoor die 76,2% wat in Maart genoem is.
Die tesourie is wel vol vertroue dat hy op koers is met fiskale konsolidasie en dat die skuldverhouding hiervandaan standhoudend sal afneem, en dat hy ook van nou af 'n al hoe groter primêre begrotingsoorskot sal handhaaf. 'n Primêre begrotingsoorskot is waar nie-rentebesteding voldoende gedek word deur staatsinkomste.
Die laer groei het gevolge vir verwagte belastinginkomste. Waar die tesourie in Maart nog verwag het hy gaan R18 miljard ekstra inkry deur nie persoonlike inkomstebelastingkerwe met inflasie aan te pas nie, verwag hy nou net R15,5 miljard.
Besnoeiings
Met laer ekonomiese groei en sowat R20 miljard minder verwagte inkomste, het die tesourie sy nie-rentebesteding vir die boekjaar met sowat R15,1 miljard besnoei.
Die tesourie het wel verseker dat dienste aan die publiek, soos onderwys, gesondheid en veiligheid, steeds ruim toewysings kry.
Eindelik word daar by bykans elke staatsdepartement 'n paar miljard rand besnoei.
Oor die drie jaar van die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) verlaag die ekstra toewysings van R232 miljard tot R180,1 miljard.
Regering van nasionale eenheid
Die stempel van die regering van nasionale eenheid (RNE) is wel duideliker in die jongste begroting.
Die tesourie mik om die hele begrotingsproses vir die volgende MTBR te hersien om groter besparings en besnoeiings te behaal.
Die konsultasiekanale binne die RNE sal versterk word. Die kabinet sal groter mag kry om oor begrotingsitems te kibbel. Tegniese komitees oor die regering heen sal "bemagtig word om op die RNE se prioriteite te kan reageer".
Die bestedingshersienings wat gedoen is, het volgens die tesourie sowat R37,5 miljard se potensiële besparings geïdentifiseer.
Daar kom ook groter klem op die identifisering en verwydering van spookwerkers.
Die staat se IT- en datastelsels sal opgegradeer word om bewysgegronde besluitneming oor die staatsdiens heen te kan integreer.
- francois.williams@24.com




















