Hierdie prentjiemooi vissersdorpe met hul kenmerkende witkalk- inheemse Kaapse argitektuur, het 'n merkbare styging in eiendomsverkope ervaar, veral tydens die 2021-2022-markswelling. Pryse vir luukse huise in Langebaan het sedertdien opgeskiet na tussen R5 miljoen en R8 miljoen. Professionele beroepslui wat in die nabygeleë Saldanha en Vredenburg werksaam is, verkies toenemend om in dorpies soos Langebaan te bly, wat die eiendomspryse hier opjaag. Syfers deur Lightstone dui op meer as R1,3 miljard se eiendomstransaksies wat in die voorafgaande 12 maande tot September 2024 in Langebaan beklink is.
Langebaan se nabyheid aan Kaapstad (slegs twee uur se ry) maak dit 'n gewilde wegbreekbestemming. Heelwat Kapenaars besit of huur vakansiewonings hier deur middel van Airbnb. Die Curro-skool buite die dorp bied ook 'n verdere rede vir gesinne om hierheen te verhuis.
Net soos Malmesbury het dié streek voordeel getrek uit infrastruktuurverbeteringe soos die opgegradeerde N7-Kaap-Namibië-roete. Gevolglik het dit aanlokliker geword vir mense om ook hier nes te skop en daagliks stad toe te pendel, wat 40 minute duur.
Die Weskus se eiendomsmark het opvallende groei tussen 2021 en 2022 getoon waartydens huispryse in gebiede soos Yzerfontein en Paternoster verdubbel het, terwyl daar stygings van tot 107% in dorpe soos Langebaan, Malmesbury en St. Helenabaai waargeneem is. Oor die afgelope dekade was dié syfer so hoog soos 196%. Op R3,1 miljoen beleef Yzerfontein tans die hoogste gemiddelde transaksieprys, gevolg deur Langebaan teen R2,3 miljoen.
Die vraag na spesifiek luukse eiendom bly sterk, sê Jaco en Tracey-Lee Coetzee van Seeff Langebaan. Seeff het onlangs woonstelle in Marina Village teen onderskeidelik R3,55 miljoen en R3,75 miljoen verkoop, asook luukse huise in Calypso Beach waarvan die pryse tussen R6,9 miljoen en R8,8 miljoen gewissel het. Die grootste vraag is egter na eenhede in die R1,5 tot R2,9 miljoen-prysklas, veral by nuwe ontwikkelings.
Die verhuringsmark word ook gekenmerk deur 'n reusevraag na eiendomme. Kleiner huise word vir tussen R10 000 en R12 500 per maand verhuur, terwyl drieslaapkamerhuise tussen R16 000 en R24 000 per maand haal. In luukse komplekse en buurte wissel hierdie syfer vanaf R25 000 tot R30 000.
Die mark is meer seisoenaal in Yzerfontein, maar lok nogtans belangstelling in premiumeiendomme. Hier haal erwe tussen R1,05 en R1,3 miljoen, terwyl luukse plot-en-plan-pakkette tot R4,1 miljoen kan kos. Huureiendom is ook hoogs gesog, met pryse vanaf R12 000 vir woonstelle en tot R30 000 vir luukse wonings.
Die gemiddelde huisprys in Paternoster, wat neig om ouer aftree- of vakansiekopers te lok, is R1,9 miljoen en daarom meer bekostigbaar as Yzerfontein en Langebaan.
Intussen vang Saldanha, Vredenburg en Malmesbury se laer eiendomspryse die oë van jonger kopers en gesinne.
Op sy beurt is Elandsbaai 'n minder aktiewe markomgewing waar daar jaarliks net 'n handjievol eiendomstransaksies plaasvind. Onlangse kopers is almal oor die 50 jaar oud, wat dui op die omgewing se aanloklikheid vir afgetredenes.

















