Die invloed van semigrasie is steeds duidelik op die eiendomsmark te sien met kuseiendomme, veral in die Wes-Kaap, wat voortgaan om sterk prysgroei te toon.
Volgens die Seeff-eiendomsgroep wys sy interne verkoopsdata dat Wes-Kaapse kuseiendom van die duurste pryse behaal.

Dit word gesteun deur eksterne data verkry van die Lightstone-data-insamelingsgroep, waarvan die huisprysindeks aandui dat pryse aan die kus vinniger styg as in die res van die land. Vir die Wes-Kaap is dié styging tans 'n gemiddeld van 4,7%, terwyl die kuseiendomme ook die laagste leegstaankoers vir verhurings het.
'n Derde bron wat dié tendens steun, is die jongste Rode-verslag wat aangedui het dat slegs 2,3% van woonstelle in die Wes-Kaap in die eerste kwartaal leeg gestaan het. Vir Kaapstad spesifiek was die leegstaansyfer 2,5%, terwyl dit vir George 'n merkwaardige 0% was.
Hierteenoor was die leegstaankoers in Gauteng vir die eerste kwartaal 'n enorme 9,3%.

Semigrasie bly die enkele grootste rede hiervoor, met mense wat vanuit die binneland na die Kaapse kusgebiede trek. Volgens Lightstone verkies die meeste kopers die dorpe aan die Tuinroete, soos Mosselbaai, George, Knysna, Plettenbergbaai en Hermanus in die Overberg en Langebaan aan die Weskus.
Veral Mosselbaai is een van die groot suksesverhale wat semigrasie betref. Hoewel daar 'n effense afkoeling plaasgevind het sedert 2021 en 2022 se piek, hou kopers steeds van die dorp se fantastiese leefstyl en nabyheid aan die groter George en sy lughawe.
Die gemiddelde prys vir 'n losstaande huis tans in Mosselbaai is R1,9 miljoen. Vir 'n deeltiteleenheid kan jy verwag om R1,4 miljoen te betaal, terwyl landgoedere R4,0 miljoen haal. Mense is veral gaande oor die puik leefstyl wat hier gehandhaaf kan word.

Tipiese kopers sluit in gesinne, maar ouer mense hou ook van die omgewing en die goeie gholfoorde. George is naby en bied 'n lughawe met verbindings na Gauteng en Kaapstad terwyl die omgewing ook goeie skole het, maar 'n lae verkeersdigtheid wat minder stres veroorsaak.
Plettenbergbaai lok ook al hoe meer kopers, het Seeff bevind, veral onder ryk kopers. Eiendomspryse hier is van die hoogste in die land, met net die Atlantiese kusstrook wat dit klop, sê die eiendomsgroep. Huise in landgoedere verkoop gereeld vir pryse bokant die R10 miljoen-kerf en lok meestal ouer kopers.
Losstaande huise verwissel tans tipies vir R3,7 miljoen, terwyl deeltiteleenhede vir R2,6 miljoen verkoop word.
Knysna is net so 'n ou gunsteling, met gemiddelde pryse vir losstaande eenhede wat vanaf 2021 se R2,0 miljoen met 'n massiewe 75% gestyg het na R3,5 miljoen vandag. Deeltiteleenhede het ook 'n flukse groei van 30% getoon, vanaf R1,15 miljoen na R1,5 miljoen vandag.
Hermanus, skaars twee ure vanaf Kaapstad, bly ook 'n gunsteling onder plaaslike kopers. Die landelike leefstyl, goeie wynplase in die omgewing en walvisbesigtiging maak die dorp steeds gewild onder kopers.
Waar deeltiteleenhede vyf jaar gelede nog vir R1,1 miljoen verhandel het, sal jy vandag R1,8 miljoen daarvoor moet opdok. Huispryse het net sulke goeie groei getoon, vanaf R1,7 miljoen na die huidige gemiddeld van R2,5 miljoen.
Die Voëlklip-buurt geniet ook sterk prysgroei aan die hoër kant van die mark, waar eiendomspryse tans gereeld tussen die R10 miljoen- en R20 miljoen-kerf verhandel.

















