Beurtkrag is Sondagoggend opgeskort en die toepassing daarvan oor die naweek was net 'n "tydelike terugslag", volgens Eskom.
Dit is opgeskort nadat die noodreserwes vir kragopwekking genoegsaam aangevul is.
Die land is die skrik op die lyf gejaag toe Eskom Vrydag ná meer as 10 maande van ononderbroke kragverskaffing weer skielik aankondig beurtkrag gaan toegepas word.
Eskom glo die opskorting van beurtkrag toon dat sy herstelplanprojek nog op koers is en werk. Die beurtkrag het gevolg omdat Eskom op sy noodreserwes moes staatmaak nadat talle opwekkingseenhede by steenkoolkragstasies onklaar geraak het.
Sy dieselkragstasies en damvlakke het nou genoegsaam herstel om die beurtkrag op te hef. Vyf van die opwekkingseenhede is ook weer terug in bedryf, wat altesaam 2 930 MW by die netwerk gevoeg het. Nog 2 391 MW gaan na verwagting vandag bygevoeg word.
Volgens Eskom bly sy vooruitsig vir die res van die somer onveranderd.
Daar is tans onbeplande instandhouding aan kragstasies wat 13 279 MW uit diens gehaal het.
Opwekkingsvermoë van 6 298 MW is weens beplande instandhouding uit diens. Dit is deel van die plan met die instandhouding van sy infrastruktuur om te verseker dat Eskom gereed is vir die winter.
Opwekkingsvermoë van 27 957 MW is tans beskikbaar, wat oorgenoeg is vir Sondagaand se piekaanvraag van 24 456 MW, lui 'n verklaring.
In sekere gebiede bly die kragnetwerk oorlaai weens onwettige verbindings, vandalisme, die sabotasie van meters, die diefstal van toerusting en elektrisiteit wat by onwettige verskaffers gekoop word.



















