Die poste van sowat 56 000 mense en die plaaslike gasmark van sowat R250 miljard is in die gedrang as die komende "gasafgrond" nie betyds vermy word nie.
Dit blyk uit 'n aanbieding van die departement van minerale en petroleumbronne vandeesweek aan die parlement se portefeuljekomitee oor elektrisiteit en energie.
Die groter gebruik van aardgas is noodsaaklik vir Suid-Afrika om sy beloftes en teikens van kweekhuisgasvermindering te haal, het die komitee gehoor.
Maar met Sasol se gasvelde in Mosambiek wat uitgeput begin raak, en omdat Sasol van 2028 af die aardgas self by Secunda wil gebruik om sy steenkoolverwante kweekhuisgasse te verlaag, is plaaslike nywerhede wat van Sasol se gas afhanklik is, nou genoop om alternatiewe bronne te vind.
Die regering is egter besorg dat traag gevorder word om invoerpunte vir vloeibare aardgas te bou sodat die alternatiewe gasbronne ingevoer kan word.
Die departement se syfers wys Suid-Afrika voer tans sowat 180 petajoule per jaar se aardgas van Mosambiek in, waarvan die meeste (110 petajoule) deur Sasol gebruik word en die res aan nywerhede in Gauteng en KwaZulu-Natal verkoop word.
Groeipotensiaal
Die gasmark het sterk potensiaal om te groei, want Eskom kan van sy steenkoolkragstasies in Mpumalanga en elders naby die bestaande gaspypleidings omskakel om aardgas vir kragopwekking te gebruik. Die private Avon-oopsiklusgasturbine-kragstasie by Shakaskraal in KwaZulu-Natal wat tans diesel gebruik, kan ook na aardgas omgeskakel word.
Volgens die departement het die gasmark reeds 'n belangrike rol in die ekonomie ingeneem deur die skep van sowat 56 000 werkgeleenthede al langs die waardeketting, die belasbare inkomste van sowat R215 miljard en die bydrae van 1% tot 2% tot die BBP.
Tans voer Sasol aardgas van Mosambiek af in via die Rompco-pypleiding. Deel daarvan word deur Sasol verbruik en die res word tans nog aan nywerheidsverbruikers in Gauteng verskaf.
Van Secunda af word metaanryke gas na Richardsbaai en Durban gevoer, wat deur KwaZulu-Natalse nywerhede gebruik word.
Die gasmaatskappy Renergen vervoer aardgas per pad van Welkom in die Vrystaat na Gauteng, wat deur vervoermaatskappye gekoop word wat hul busse en vragmotors daarmee aandryf.

Oorgrensbelastings dreig
Bogenoemde verteenwoordig die noordelike gasmark in Suid-Afrika, met die suidelike gasmark wat tans nog water trap omdat PetroSA se gasvelde aan die Suid-Kaapse kus opgedroog het en die ontdekkings wat die Franse groep TotalEnergies gedoen het, nog nie ontwikkel is nie.
Die dreigende gasafgrond - as gasvoorraad skielik van 2028 af opdroog in die afwesigheid van gasinvoer - kan volgens die departement die land se energiesekerheid in die gedrang bring. Dit kan ook veroorsaak dat Suid-Afrika sy teikens vir kweekhuisgasverminderings moet uitstel.
En dit stel die ekonomie bloot aan die Europese Unie (EU) se oorgrensbelastings op koolstofintensiewe invoerprodukte wat die EU van volgende jaar af wil instel.
Die departement waarsku ook dat die volgehoue hofsake van omgewingsaktiviste teen olie- en gaseksplorasie tot die krisis bydra omdat dit die tyd verleng om meer plaaslike gasbronne te vind.
Amptenare het die komitee daarop gewys dat dit nie net die gasafgrond is wat kommer wek nie, maar ook die verwagte totale afname in gasinvoer van Mosambiek weens die Pande- en Temane-gasveld van Sasol wat teen 2034 uitgeput gaan wees.
Van die toekomsplanne is dat Suid-Afrika benewens die pypleiding aardgas per skip van Mosambiek af invoer. Maar Mosambiek het sy eie ambisies om 'n groot uitvoerder van aardgas na Asië en sy ander buurlande in Afrika te word, en om sy eie gasraffinaderye te bou en sy eie ekonomie daarmee te ontwikkel.
Mosambiekse konflik is ernstige risiko
Die interne politieke konflik in Mosambiek hou 'n ernstige risiko in vir gasinfrastruktuur, soos die Rompco-pypleiding. Die departement meen Suid-Afrika behoort dringend sy eie gasbronne te ontwikkel en nouer met Namibië te skakel om ook gas daarvandaan te kry.
In die gasveld waar TotalEnergies gas in 2019 en 2020 ontdek het, is al $400 miljoen bestee, maar dit kan $10 miljard kos om die gasveld ten volle te ontwikkel.
As die gasveld suksesvol ontwikkel kan word, kan dit nuwe lewe blaas in PetroSA se gas-tot-brandstofaanleg by Mosselbaai, en kan die huidige oopsiklusgasturbine-kragstasies soos Gourikwa by Mosselbaai, Dedisa by Coega en Ankerlig by Atlantis van diesel na aardgas oorgeskakel word. Dit kan volgens die departement ook die bou van nuwe gaskragstasies moontlik maak.
Aardgas wat naby Amersfoort in Mpumalanga ontdek is, het die potensiaal om 'n nuwe gasbron vir Sasol se Secunda-aanleg, Eskom-kragstasies en ander gebruikers te word, maar die veld sal na verwagting eers oor 'n paar jaar ontwikkel word, volgens die departement.
Wat gasbronne aan die Weskus betref, is die departement in gesprek met Eskom, die Kaapstad-metro, mynmaatskappye en 'n onafhanklike kragprodusent in die Noord-Kaap oor moontlike ooreenkomste vir gaskragopwekking.
-francois.williams@24.com





















