Die algemene verkiesing wat op 29 Mei plaasvind, is die mees onvoorspelbare tot nog toe sedert Suid-Afrika in 1994 'n volwaardige demokrasie geword het. Dit is nie net politieke partye en die publiek wat asem ophou nie, maar ook internasionale en plaaslike beleggers.
Mike Gresty, 'n fondsbestuurder by Anchor Capital, sê die algemene konsensus onder beleggers is dat die verkiesing vreedsaam sal verloop, maar daar is steeds 'n risiko van ongekende gevolge sou die uitslag die ANC uit die kussings lig.
Gresty het die afgelope week by 'n mediageleentheid gesê daar word algemeen verwag die ANC sal sowat 45% van die stemme kry. Die party sal moontlik 'n kleiner party as koalisie-vennoot betrek en sake sal normaal voortgaan, maar die risiko van meer beduidende verandering moet in ag geneem word.
Dít kan wees soos 'n uitslag waarin die ANC 'n laer persentasie van die stemme kry, wat hom in 'n koalisie kan dwing met 'n party soos die EFF.
Dit sal die regering dwing om sy beleid te verander soos wat deur die EFF vereis word en met sekere "individue wat in magsposisies beland".
Peter Armitage, uitvoerende hoof van Anchor, stem saam uit 'n markoogpunt is die linkse EFF die werklike bedreiging vir ekonomiese beleid.
Ná onlangse botsings in ANC-EFF-koalisies op plaaslike regeringsvlak het die ANC laat blyk hy wil nie ná die verkiesing in 'n nasionale koalisie met die EFF wees nie; iets wat beleggers in 'n mate gerusstel.
In die jongste verkiesingspeiling van die Brenthurst-stigting het 76% van respondente gesê hulle is ten gunste van 'n koalisie-regering, maar die voorkeur vir 'n ANC-EFF-koalisie het sedert Oktober 2022 met sewe persentasiepunte gedaal.
Altesame 29% van respondente verkies die Veelparty-handves as koalisie en 25% 'n koalisie tussen die ANC en DA.
Annabel Bishop, 'n ekonoom van Investec, sê in 'n nota politieke onsekerheid is steeds 'n probleem wat beleggersentiment negatief raak.
Die ekonomie het in 2023 net met 0,6% op 'n jaargrondslag gegroei, teenoor 'n stewige 5% in 2007.
Swak leierskap is nou vir meer kiesers een van die grootste probleme eerder as misdaad.
In die Brenthurst-peiling het 53% van respondente gesê hulle glo die ANC is verantwoordelik vir die land se ekonomiese probleme.
Die peiling, wat telefonies onder meer as 1 500 geregistreerde kiesers gedoen is, toon vier uit vyf Suid-Afrikaners meen boonop die land beweeg in die verkeerde rigting.
Vir 28% van respondente is werkloosheid die land se grootste probleem, gevolg deur 27% wat korrupsie boaan die lys sit. Dan meen 17% van die respondente beurtkrag is die grootste probleem en 12% swak leierskap.
Swak leierskap is nou vir meer kiesers een van die grootste probleme eerder as misdaad.
Meer as 30% van respondente sê die Wes-Kaap, waar 12% van die bevolking bly, is die provinsie wat die beste regeer word.
Respondente sê daar is verskeie maniere waarop die regering meer geld in landsburgers se sak kan sit:
• 39% voel die regering moet dit makliker maak om 'n eie onderneming te begin;
• 25% vra vir laer belasting;
• 20% wil meer maatskaplike toelaes sien;
• 12% voel minder moet aan die staatsdiens bestee word; en
• 4% was onseker of het nie geantwoord nie.
Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank wat pas vir 'n derde termyn aangewys is, het reeds gewaarsku politieke partye moet hul retoriek in aanloop tot die verkiesing beperk om nie moontlike beleggings in die wiele te ry nie.



















