Hoeveel hoendervleis eet jy?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Oondgeroosterde hoender. Foto: Argief
Oondgeroosterde hoender. Foto: Argief

Suid-Afrikaners eet 37,3 kg hoendervleis per persoon per jaar, volgens die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging.

Dit maak dit steeds die gewildste diereproteïne om te eet in die land.

Dit is dus geen verrassing nie dat hoenderverbruik in Suid-Afrika - vanweë sy bekostigbaarheid en veelsydigheid in kosproduksie - na verwagting op mediumtermyn sal groei.

Dit blyk uit 'n onafhanklike navorsingsverslag oor die pluimveebedryf wat ook 'n omvattende ontleding van Rainbow Chicken insluit.

RCL Foods, eienaar van Rainbow, wat hom op 26 Junie afsonderlik op die JSE wil noteer, het VS Research aangestel om dié verslag op te stel as hulp aan aandeelhouers en beleggers.

Hoender bly luidens die verslag een van die goedkoopste bronne van proteïne in Suid-Afrika aangesien dit minder kwessies het wat verband hou met die godsdienstige aanvaarbaarheid daarvan, veral in vergelyking met varkvleis - sy naaste mededinger wat prys betref.

Voorts wys die verslag daarop dat reële BBP-groei in Suid-Afrika die laaste paar jaar gemiddeld was en deur die beperkinge van energieverskaffing en bottelnekke by hawens en spoorweë verhinder is. Daar is vir 2024 'n verwagting van 'n mate van groei, gegrond op verbeterde energievoorsiening en 'n potensiële daling in die rentekoers in die tweede helfte van die jaar.

Kosverkope sal na verwagting met sowat 7,5% op mediumtermyn groei, ondersteun deur bevolkingsgroei, geleidelike ekonomiese herstel en die normalisering van inflasie wat tot groter vlakke van besteebare inkomste sal lei.

"Vanuit 'n voedselbestedingsperspektief word die grootste aandeel van besteding aangegaan op vleis en pluimvee (37%), gevolg deur suiwelprodukte en stapelvoedsel soos brood en graansoorte."

Verbruikers bestee tans sowat 37% van hul kosinkopies aan vleis. Dit gaan na verwagting teen 2027 tot 37,5% styg. Hoewel besteding aan vleis toegeneem het, het mense nie na duurder vleissoorte geskuif nie, maar net meer hoender begin verbruik.

Hoenderverbruik sal na verwagting styg met groei in verbruikersbesteding op vleis en pluimvee (7,6% groei voorspel op mediumtermyn) wat na verwagting algehele groei in die Suid-Afrikaanse kosmark effens gaan verbysteek, lui die verslag.

Dié maatskappy, wat onder meer handelsmerke soos Rainbow, Rainbow Simply Chicken en Farmer Brown besit, is die tweede grootste pluimveevervaardiger in Suid-Afrika. Daar is ook twee kosdienste - Flavourburst en Ready2Go - in die Rainbow-stal. Dit het drie afdelings: hoender, voer en afval-na-waarde (Matzonox).

Sowat 54% van sy verkoopsvolume gaan aan die restaurant en spysenieringsegment, met die oorblywende 46% volume wat in die kleinhandel en in grootmaatmarkte verkoop word.

Die besigheid verkoop nagenoeg tweederdes van sy dierevoer aan die interne hoenderafdeling en die res ekstern, onder die Epol- en Driehoek Feeds-handelsmerk.

Die hoenderafdeling wat geskiedkundig die afdeling was wat die grootste winste gegenereer het, is oor die afgelope jaar geraak deur uitdagings oor hoenderras, druk weens hoër insetkoste, invoere en voëlgriep.

Rainbow het Maandag in 'n verklaring aangedui sy plan vir ontbondeling en notering spruit uit 'n uitgebreide ontleding wat die RCL-direksie oor 'n tydperk van twee jaar oor verskeie moontlike opsies laat doen het.

Luidens die verslag sal Rainbow by sy ontbondeling die huidige aandeelhouerstruktuur van RCL Foods hê, wat impliseer dat sowat 80% van Rainbow Chicken deur Remgro besit sal word.

SPELETJIES VANDAG

CTA