DRDGold is 'n Suid-Afrikaanse goudprodusent en 'n wêreldleier in die herwinning van goud uit oppervlakslik.
Ons het voorheen die aandeel uitgewys as 'n tegniese geleentheid, maar ongelukkig waarsku die grafiek nou.
Die drie-dae- bewegende gemiddelde (groen lyn) het afwaarts gekruis deur die agt-dae- bewegende gemiddelde (rooi lyn), wat impliseer dat die korttermynsentiment jeens die aandeel na negatief verander het.

Die stogastiese aanwyser het reeds afwaarts gebreek, maar daar is nog baie ruimte op die aanwyser vir meer momentum na onder.
Die volgende laer hoogte sal onder lyn A (R6,73) bevestig word. 'n Laer hoogte bevestig dat momentum na bo aan die opdroog is.
Twee vensters wag tussen R6,52 en R6,87 en tussen R5,39 en R5,44.
- Spekulante: Verkoop of oorweeg 'n kortposisie onder lyn A (R6,73) maar gebruik R7,13 as keerverlies om kapitaal te beskerm. Die moontlike teikens na onder is: R6,54; R6,40; R6,30; R6,21; R6,09; en R5,80.
- Medium- tot langtermynbeleggers: Die langtermynsentiment jeens die aandeel sal positief bly solank die 40-weke- bewegende gemiddelde (R3,72) 'n steun bly. Hou in gedagte dat die aandeel baie ver van sy 40-weke- bewegende gemiddelde verhandel.
- Frans en Christelle de Klerk is onafhanklike tegniese ontleders. Christelle is ook 'n geregistreerde makelaar. Kontak hulle by www.fransdeklerk.com of www.chris-tell.com. Twitternaam: TraderFrans
















