20%-styging in goudprys help DRDGold presteer

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
DRDGold verwerk ou mynhope, slikdamme en mynuitskot by ’n paar plekke in die omgewing van Carletonville, Fochville en Westonaria aan die Wesrand.Foto: DRDGold
DRDGold verwerk ou mynhope, slikdamme en mynuitskot by ’n paar plekke in die omgewing van Carletonville, Fochville en Westonaria aan die Wesrand.Foto: DRDGold

Die goudmynmaatskappy DRDGold mik vir nog tussen 14 en 25 jaar se goudproduksie.

By sy Ergo-onderneming wil hy sowat R3,1 miljard bestee om die myn se produksieleeftyd met 14 jaar te verleng. Dit behels die verwerking van ou mynhope wat van Sentraal-Johannesburg tot Brakpan en Nigel aan die Oosrand strek.

By sy Far West Gold Recoveries (FWGR), waar hy onder meer mynhope by die ou Driefontein-myn by Carletonville verwerk, mik hy na kapitaalbelegging van sowat R7 miljard oor die volgende vyf jaar om die produksie met nog 25 jaar te verleng.

DRDGold het Woensdag sy jaarresultate vir die boekjaar tot einde Junie bekend gemaak. Hoewel goudproduksie met 5% tot net meer as 5 ton gekrimp het, het sy omset met 13,5% tot R6,24 miljard gegroei en bedryfswins het met 14,4% van R1,819 miljard tot R2,081 miljard geklim danksy stygende goudpryse. Toevallig stem die verhouding van die bedryfswinsstyging byna presies ooreen met die dollarprys per ons wat behaal is - wat met 14% van $1 823 tot $2 077 per ons gestyg het.

Sy kontantbedryfskoste per kg goud het met 20% tot R833 536 gestyg, maar die gemiddelde goudprys wat behaal is, was in randterme ook 20% beter op R1,248 miljoen.

DRDGold het 'n slotdividend van 20c per aandeel verklaar, teenoor die vorige jaar se dividend van 65c per aandeel.

Die maatskappy spog wel dat dit die 17de jaar agtereenvolgens is dat hy steeds dividendbetalings aan aandeelhouers maak.

DRDGold is in die proses om die omgewingskade van mynbou te herstel en steeds waarde te skep, sê Niël Pretorius, uitvoerende hoof.

Die groep is in die proses om teen die 2028-boekjaar 'n aantal reklamasiepersele op die been te kry wat 3 miljoen ton se erts per maand verwerk, met goudproduksie wat na verwagting tot net meer as 6 ton per jaar kan styg.

By die Ergo-myn het DRDGold sy sonkragaanleg van 60 MW grootliks voltooi, met 20 MW wat reeds in bedryf is en in die afgelope boekjaar aan sowat 10% van Ergo se kragvraag voorsien het.

Die groep werk ook aan 'n batterystelsel wat 160 MWh se elektrisiteit kan opgaar.

Die sonkragaanleg is aan Eskom se nasionale kragnetwerk verbind, en enige oortollige elektrisiteit wat by Ergo opgewek word, kan dus op die netwerk gelaai word om te vergoed vir kragverbruik by ander dele van DRDGold se bedrywighede.

Volgens Pretorius is die oorgang na groenkrag 'n integrale deel van sy benadering om sy omgewingsvoetspoor en omgewingsimpak te verklein. DRDGold wil sy gebruik van hernubare energie teen die tweede kwartaal van die nuwe boekjaar verhoog tot sowat 14 000 MWh per maand, of sowat die helfte van Ergo se totale kragverbruik.

DRDGold het oor die afgelope 12 jaar al meer as 138 ou mynhope verwerk en skoongemaak. Dit het sowat 700 hektaar grond wat voorheen steriel was, vrygestel vir produktiewe gebruik vir ander doeleindes.

Die groep het in die afgelope boekjaar 893 werknemers gehad, teenoor die vorige jaar se 927.

Sy aandeelprys op die JSE het Donderdagoggend net effe gestyg, maar teen net meer as R18 is dit 45% sterker as die laagtepunt oor die afgelope 12 maande van R12,49 einde Februarie vanjaar.

SPELETJIES VANDAG

CTA