Dié tegniese vaardighede kan nasionale ontwikkelingsplan help

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Vaardigheidskompetisies kan die sleutel wees tot die sukses van die nasionale ontwikkelingsplan.

So sê T.E. Kato, 'n beoordelaar in die pas-en-draai-afdeling van die Vrystaatse tegniese en gespesialiseerde vaardigheidskompetisie, wat die naweek by die Hoër Tegniese Skool Louis Botha in Bloemfontein aangebied is.

Dit het die tegniese vaardighede van 108 gr. 10- en gr. 11-leerlinge van tegniese en landbouskole in die provinsie getoets.

Die kompetisie, wat saam met die Vrystaatse onderwysdepartement, die Sasol-stigting en die Kagiso-trust aangebied is, toets die vaardighede van leerlinge in drie kategorieë: siviel, elektries en meganies.

Elke kategorie bestaan uit drie subkategorieë waaronder konstruksie, loodgieterwerk, houtwerk, swaarstroom, elektronika, digitale sisteme, motorwerktuigkunde, swyswerk en pas-en-draai onderskeidelik val.

Tydens die kompetisie kry leerlinge in die verskeie subkategorieë 'n opdrag om binne 'n vasgestelde tydperk te voltooi.

Nonjabulo Mkhumbeni van die Lenakeng Technical School en Teboho Mokejane van die Leseding Technical Secondary High School besig met hul taak in die kategorie swaarstroomstelsel. Foto: Robyn Schutte
Nonjabulo Mkhumbeni van die Lenakeng Technical School en Teboho Mokejane van die Leseding Technical Secondary High School besig met hul taak in die kategorie swaarstroomstelsel. Foto: Robyn Schutte

Die opdragte word eers deur die fasiliteerders en beoordelaars van elke kategorie voltooi om vas te stel of die opdrag wel gepas is vir die leerlinge om uit te voer. Daarna voltooi die leerlinge hul opdragte en word beoordeel op die gehalte van hul voltooide produk, asook hul vaardigheid met die masjinerie en of hulle aan veiligheidsmaatreëls voldoen het.

Die kompetisie toets nie net die vaardighede van leerlinge in die kategorieë nie, maar beoog ook om die leerlinge te motiveer om loopbane as ambagsmanne te volg en sodoende die nasionale ontwikkelingsplan te ondersteun met sy doel om teen 2030 jaarliks 30 000 gekwalifiseerde ambagsmanne te lewer.

Vanjaar is die interprovinsiale vaardigheidskompetisie vir onderwysers ook aangebied. 43 onderwysers uit Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, die Noord-Kaap en die Vrystaat het deelgeneem.

Wimpie Lodewyk, bestuurder van tegniese en landbouskole in die Vrystaat, sê hy was beïndruk deur die hoeveelheid inskrywings wat hulle ontvang het vir albei kompetisies, en hoop om die kompetisie verder na ander provinsies uit te brei.

Benjamin Mokhele (16), 'n deelnemer aan die pas-en-draai-afdeling wat die tweede plek behaal het, sê die blootstelling wat die kompetisie aan hom gebied het, het hom opgewonde oor sy toekoms as ambagsman gemaak.

Volgens hom is die kompetisie nie net belangrik vir leerlinge nie, maar ook vir onderwysers, omdat hulle deur hul eie verryking leerlinge op nuwe maniere kan bystaan.

SPELETJIES VANDAG

CTA