Met ’n hele rits faktore wat tans saamspeel om boere se rou nerwe verder te ry, het groot rolspelers in die appelbedryf kommer uitgespreek oor die moontlikheid dat die appelinhoud in sider verminder gaan word. Emile Joubert gesels met rolspelers in die bedryf oor hierdie kwessie.
Appels word met appels vergelyk, maar as dit kom by sider – die gegiste dranksoort van appel-oorsprong – is alle siders nie gelyk nie.
Die egte siders van lande soos Engeland, Frankryk, Australië en ook sommige in Suid-Afrika, word berei soos hierdie drankie eeue gelede ontstaan het, naamlik deur die suiwer sap van appels te gis, wat dan gewoonlik in ’n bruisvorm gebotteleer en geniet word.
Soos wat wyn met die sap van die druif verbind word, word sider as ’n hoofsaaklik appel- alkoholiese drank beskou.
Ongelukkig word die maak en inhoud van sider nie beheer deur bedryfsliggame nie, soos in die geval van wyn wat uitsluitlik uit druiwe berei mag word.

Dus word daar in baie lande siders aangebied waar die appelinhoud slegs ’n persentasie van die eindproduk behels, met die appel-komponent verwater deur sap van ander vrugtesoorte en/of suikerstroop.
Suid-Afrika het oor die afgelope drie dekades heel stilletjies ontpop as een van die wêreld se grootste sider-produsente, hoofsaaklik weens die enorme sukses van Savanna en Hunter’s, twee siders in die stal van Heineken Beverages. Savanna is die voorbok hier, en sedert dit in 1996 in Suid-Afrika bekend gestel is, het die produk gegroei tot die wêreld se grootste sider-handelsmerk.
Heineken maak tans jaarliks 3 miljoen hektoliter sider, en met plaaslike wetgewing wat bepaal dat Suid-Afrikaanse sider ’n minimum appelinhoud van 80% moet bevat, word ’n aansienlike hoeveelheid Kaapse appels – hoofsaaklik van die Elgin- en Ceres-streek – vir die maak van Heineken-sider ingespan.
Ongeveer 280 000 ton appels word jaarliks verwerk as sap en konsentraat, ongeveer 30% van die land se appeloes. ’n Vername komponent hiervan word verkoop vir Heineken se sider-behoeftes, hoewel die maatskappy ook appel-konsentraat invoer van China.
Bedryf in rep en roer
Betreffende die verskaf van vrugte vir hierdie sider-magnaat, staan die appelwa tans egter op wankelrige wiele. Dit nadat Heineken beoog om die landboudepartement te nader met ’n voorstel om die bepaling, wat die appelinhoud van sider – tans op 80% vasgestel – te wysig na ’n beskeie 60%-komponent.
Die uitwerking wat hierdie verwatering van die appelinhoud van Suid-Afrikaanse sider sal hê is tweeledig. Eerstens sal dit appelboere raak deur hulle van ’n belangrike afsetpunt te ontneem.
Tweedens sal die verlaging van die appelkomponent die beeld en integriteit van sider as ’n appel-gedrewe dranksoort erg raak.
Hierdie beeld blyk, heel tereg, belangrik vir Heineken te wees. Savanna word bemark as ’n sider “gemaak uit geparste appels afkomstig van die vrugbare Elgin-vallei in die Wes-Kaap”. Daar word ook van Savanna gesê dat “nes die bome waaraan ons appels hang, strek ons wortels diep . . .”
Deur die appelkomponent van sider tot 60% te verlaag, gaan dit moeilik wees om hierdie beeld van ’n produk afkomstig uit landelike boorde en groen valleie te handhaaf. Om nie te praat van die nadelige effek op appelboere nie.

Volgens Anton Rabe, hoof van die vrugtebedryfsliggaam Hortgro, verstaan hy en die res van die appelbedryf nie Heineken se bedoelings met die verlaging van sider se appelinhoud nie.
“Ek weet nie regtig wat hulle rasionaal is nie,” sê Rabe. “Vanuit ’n appelbedryf-perspektief is dit egter ’n no-brainer – soos wat hulle in goeie Engels sal sê – dat dit nadelig sal wees vir die integriteit van sider as produk, sowel as vir appelboere.
“Ons sal dus van Hortgro se kant enige voorstelle om die persentasie appel-inhoud te verlaag met alles wat ons het teenstaan. Trouens, daar is eerder ’n saak uit te maak dat die persentasie moet verhoog. In Australië en Nieu-Seeland is sider 100% appel.
“Dit is duidelik dat die einddoel is om insetkoste met betrekking tot sider te verlaag deur suiker in die vorm van mieliestroop te gebruik om die vrugte-inhoud te vervang, aangesien hierdie baie goedkoper as sap is asook om invoer van konsentraat te verminder.
“Van die appelbedryf se kant gaan ons die impak behoorlik modelleer en kwantifiseer sodat ’n ingeligte besluit hieroor geneem kan word. Die laaste ding wat ons nodig het, is onnodige onstabiliteit/onsekerheid en risiko’s vir werksgeleenthede en langtermynbeleggersvertroue.”
Dan is daar ook die feit dat Suid-Afrikaanse appelkonsentraat wat na Amerika uitgevoer word, nou te make het met pres. Donald Trump se verhoogde invoertariewe van 30%.
“Die groeiende uitvoer van Suid-Afrikaanse appelkonsentraat na Amerika is ook nou basies gekelder na aanleiding van die nuwe tariewe,” meen Rabe.
“Indien daar dus aan sider se inhoud gekarring sou word, sal dit ’n double whammy vir die appelbedryf wees, wat uiteraard ’n nog groter probleem sal skep.”

Wat sê Heineken?
Volgens Johan van Zyl, voorraadlyn-direkteur vir Heineken Beverages, hersien die maatskappy tans die voorgestelde wysigings aan Suid-Afrikaanse drankregulasies. “Hierdie is om te verseker dat ons die implikasies ten volle verstaan en sinvol kan bydra tot die openbare raadplegingsproses, aangesien opdaterings van tegniese standaarde en wetgewende raamwerke ’n roetine-deel van regulatoriese ontwikkeling is. Ons verwelkom die geleentheid om deur hierdie kanale deel te neem,” sê hy.
Heineken wil ook oorweging skenk aan die belyning met bedryfsontwikkelings om moontlik meer buigsaamheid vir toekomstige groei en innovasie in die plaaslike sider-kategorie toe te laat, aldus Van Zyl.
“Heineken voer gesprekke met die Suid-Afrikaanse appelbedryf om betekenisvol by te dra tot die openbare konsultasieproses rakende die Suid-Afrikaanse drankregulasies. Hierdie gesprekke bly verkennend sodat ons konstruktief kan deelneem aan die regulatoriese hersiening en terselfdertyd die deurlopende pogings kan voortsit om appels plaaslik te verkry – ons ondersteun plaaslike sapvervaardigers ten volle volgens die produkvraag.

“Vir die Suid-Afrikaanse mark alleen produseer ons meer as 3 miljoen hektoliter sider en ons bly ten volle verbind daartoe om saam met die plaaslike appelbedryf te groei om aan die stygende verbruikersvraag te voldoen. Die sukses van ons twee siderhandelsmerke is gebou op die grondslag van plaaslik verkrygde appels, wat ons trotse bydraers maak tot Suid-Afrika se landbou-ekonomie en ’n ware plaaslike suksesverhaal.”
Dit is duidelik dat daar nog baie appelsap onder die brug moet loop om konsensus te kry uit hierdie twee hemel-breë benaderings teenoor die voorstelle om Suid-Afrikaanse sider te verwater.
Aan die einde van die dag is dit egter die verbruiker wat sal moet besluit waarmee hy of sy tevrede is, en vir ons wat van ons sider hou, moet die appel darem nie heeltemal buite bereik van die boom val nie.


Sider-bedryf in SA: Feite en syfers
Markgrootte en groei
- R140,4 miljard – gesamentlike bier- en sidermarkwaarde (2023) ’n
- 6%+ – jaarlikse groeikoers verwag tot 2029
- 4,2% – volume-verkope-groei (2023)
- 16,6% – waarde-verkope-groei (2023)
Regulasies en samestelling
- 75% – minimum appelinhoud-vereiste vir siders
- 25% – maksimum toegelate druiwe- of peersap as aanvulling
- Julie 2022 – datum toe druiwesap eers toegelaat is
Markleiers
- Heineken SA – 18% globale markaandeel (Savanna-handelsmerk)
- Distell – 8% globale markaandeel
- SAB – oorheers gesamentlike bier/sider-mark
Verbruikerstendense
- Gesondheidsbewuste verbruikers dryf groei
- Geurige siders word gewild
- Ambagtelike siders neem toe
- Glutenvrye opsies in aanvraag
Kontinentale konteks
- $2,9 miljard – Afrika se sider/mede-mark (2024)
- 13% – jaar-op-jaar kontinentale groei
Bronne:
- GlobalData – South Africa Beer and Cider Market Analysis; Statista
- Southern Africa Cider Market Outlook; Research and Markets South Africa Beer

















