Bang vir ’n operasie? Kry regte kennis op nuwe app

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Hoeveel keer het 'n chirurg of narkotiseur jou voor 'n operasie gewaarsku jy kan gedurende die prosedure wakker word, of jou ingelig oor jou risiko om op die operasietafel te sterf?

So lyk van die WhatsApp-boodskappe wat Safe Patient gebruik as interaktiewe metodes om pasiënte in te lig oor prosedures, seker te maak hulle verstaan en te monitor hoe hulle deur die inligting vorder tot waar hulle ’n toestemmingsbrief onderteken vir die prosedure wat hulle moet ondergaan.
So lyk van die WhatsApp-boodskappe wat Safe Patient gebruik as interaktiewe metodes om pasiënte in te lig oor prosedures, seker te maak hulle verstaan en te monitor hoe hulle deur die inligting vorder tot waar hulle ’n toestemmingsbrief onderteken vir die prosedure wat hulle moet ondergaan.

Van hoeveel pasiënte weet jy wat op pad na die teater, plat op hul rug en reeds in hul hospitaal-jurk, vinnig die toestemmingsbrief onderteken het dat hulle tot die operasie instem en begryp wat dit behels - en dit sonder dat die volle prosedure, moontlike komplikasies en koste aan hulle verduidelik is?

Sulke kwessies kom algemeen voor en wys dat pasiënte se geletterdheid oor gesondheidsorg te kort skiet, het medici op 'n seminaar in Johannesburg gehoor.

Gesondheidsorg-geletterdheid dui op 'n individu se vermoë om die korrekte inligting te verkry, verstaan en gebruik om 'n gepaste en ingeligte besluit oor sy of haar gesondheid te neem en dié inligting oor te dra tot voordeel van hul familie en die gemeenskap.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gaan dit nie net daaroor om pamflette te lees, doktersafsprake te maak of doktersvoorskrifte na te kom nie. Pasiënte met gebrekkige gesondheidsorg-geletterdheid loop 'n groter risiko dat hul welstand nadelig beïnvloed kan word, het verskeie sprekers gesê - en dit stel dokters bloot aan eise weens mediese nalatigheid omdat pasiënte sê hulle het nie van een of ander uitkoms ná byvoorbeeld 'n operasie geweet nie.

Dr. Jay Pillai, akademiese hoof van die Wits Donald Gordon- mediese sentrum en 'n aandeelhouer in die nuwe Johannesburg Surgical Hospital (JSH), sê volgens die WGO is geletterdheidswetgewing en -stelsels in werking in lande soos Australië en Amerika, maar nie in Suid-Afrika nie.

Kleiner studies toon dat 'n dokter in meer as 45% van gevalle (noodgevalle ingesluit) 10 minute of minder saam met 'n pasiënt voor 'n prosedure deurbring - terwyl gemiddeld 40 minute eintlik nodig is om iemand voldoende in te lig oor mediese en wetlike aspekte sodat hy/sy "ingeligte toestemming" kan verleen.

So sê dr. Craig Friderichs, wat as bedryfshoof saam met Pillai betrokke is by die ontwikkeling van die nuwe Safe Patient-app en digitale platform.

Pillai en kollegas het Safe Patient ontwikkel om die gaping in die mediese veld te help vul. Daarvoor het hulle kwessies soos wetgewing, die getal dokters in die land en pasiënte se kennis oor kliniese uitkomste van gesondheidsorg in ag geneem.

Pillai sê hoewel Suid-Afrika inligtingsveldtogte oor byvoorbeeld MIV of Covid-19 het, is 'n aaneenlopende en omvattende program nodig om die ganse bevolking oor gesondheidsorg op te voed.

Gemeenskappe moenie net ingelig word oor die belang van sanitasie, oefening en eetgewoontes vir jou gesondheid nie, maar pasiënte moet ook weet van kliniese uitkomste van byvoorbeeld operasies en spesifieke siektetoestande.

"Jou vermoë om langer te leef word deur medisyne, chirurgie én geletterdheid oor gesondheidsorg beïnvloed. Lae vlakke van laasgenoemde is 'n onsigbare epidemie," sê Pillai.

Dr. Mpho Phalatse, voormalige DA-burgemeester in Johannesburg wat nou 'n praktyk by die JSH het, sê die Universiteit van Connecticut het in 2007 bevind onvoldoende geletterdheid in dié verband kos die Amerikaanse ekonomie jaarliks meer as $235 miljard.

Volgens Pillai is dokters besorg oor gesondheidsorg-geletterdheid in die breë, maar besef hulle daar is 'n groot behoefte aan inligting en begrip oor operasies wat pa­siën­te moet ondergaan. Hulle het Safe Patient as 'n beginpunt ontwikkel, in pas met die wêreldwye beweging na tele-gesondheid.

Safe Patient is 'n interaktiewe boodskapdiens via WhatsApp, SMS of die web. Dit kan aanpas by die pa­siënt se keuse van medium (lees of oudio), taal en op sy eie tyd. Dis maklik om te gebruik en verskaf in leketaal veilige, korrekte inligting oor prosedures en nasorg soos deur dokters verskaf, sê Pillai. Die pasiënt moet telkens op 'n skakel druk om op boodskappe te reageer, soos of die beplande prosedure die regte een is, instem en aandui of hy die inligting oor die prosedure gelees (of gehoor) het. Só monitor die stelsel dat die pasiënt van een seksie na 'n volgende beweeg tot waar hy die toestemmingsbrief vir die operasie teken (nadat jy behoorlik ingelig is).

Dit dien ook as boekstawing van kommunikasie tussen dokter en pasiënt wat belangrik is indien eise rakende mediese nalatigheid later sou voorkom. Indien 'n pasiënt nie reageer nie, sal die dokter opvolg vir 'n persoonlike konsultasie.

Pillai voorsien dit sal eindelik uitgebou word tot 'n biblioteek met toepaslike en verstaanbare inligting vir pasiënte wat deur dokters verskaf is. Hy sê 83% van pasiënte wat al die app gebruik het, het aangedui die inligting wat hulle ontvang het, was omvattend en verstaanbaar.

Verskeie vaskulêre verenigings oor die wêreld heen stel belang in die stelsel en 'n ooreenkoms is onderteken met mediese kollegas in New York.

Wat breë gesondheidsorg-geletterdheid betref, wil die dokters saam met die nuwe minister van gesondheid werk aan 'n soort digitale platform vir bewusmaking en onderrig van die bevolking om hul gesondheid te verbeter.

Hy sê die nasionale gesondheidsversekering (NGV), waardeur die regering alle landsburgers gratis toegang wil gee tot gehalte-gesondheidsorg, verwys nie na gesondheidsorg-geletterdheid of 'n begroting daarvoor nie.

Riana de Lange

SPELETJIES VANDAG

CTA