Google moet Play Store se deure vir almal open, beslis hof

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Bemarkingsmateriaal vir ‘Star Wars Outlaws’, een van die videospeletjies van Epic Games, die maatskappy wat pas ’n hofsaak teen Google gewen het.  Foto: Epic Games/Facebook
Bemarkingsmateriaal vir ‘Star Wars Outlaws’, een van die videospeletjies van Epic Games, die maatskappy wat pas ’n hofsaak teen Google gewen het. Foto: Epic Games/Facebook

Alphabet, die eienaar van Google, is deur 'n hof gelas om nie meer mededingende tegnologiemaatskappye se Android-apps in sy Google Play Store te verbied nie.

Google moet van November af die mededingers se Android-apps drie jaar lank op Google Play toelaat, het 'n federale regter in Amerika beslis.

Dit is een van vele ingrypings wat regter James Donato gelas het in die saak wat Epic Games teen Google aanhangig gemaak het. Epic Games is veral bekend vir sy gewilde videospeletjie Fortnite.

Maar Google sê hy gaan teen die hofbeslissing appelleer en het gevra vir 'n opskorting van die inwerkingstelling van die ingrypings wat gelas is.

'n Jurie het in Desember in Epic se guns beslis. Volgens Epic knou Google sy mededingers deur die verspreiding van en betalings vir die apps op Android-fone te beheer.

Google voer aan die veranderinge sal gebruikers se privaatheid en sekuriteit in die gedrang bring, dit moeiliker maak vir ontwikkelaars om hul apps te bemark, en dit sal mededinging op toestelle verminder.

Regskenners meen die hofbeslissing daag die oorheersing van 'n klein groepie tegnologiereuse uit.

Google voer aan sy Google Play-winkel doen in 'n mededingende landskap sake, soos die iPhone-vervaardiger, Apple, wat self ook in 2020 deur Epic Games gedagvaar is. In daardie saak moes Apple ook die aftog blaas omdat 'n appèlhof beslis het Apple is nie geregtig op 'n monopolie op selfoonspeletjies nie.

Die hofbeslissing van vandeesweek is die jongste regsnederlaag vir Google wat mededingingsake betref. In Augustus het 'n Amerikaanse regter ten gunste van die Amerikaanse departement van justisie beslis wat Google daarvan beskuldig het dat hy 'n onwettige monopolie op aanlyn soektogte bedryf.

In September het 'n regter betooghoofde aangehoor oor soortgelyke bewerings dat Google die mark vir advertensietegnologie oorheers. Kritici sê Google hef tot 30% ekstra op elke betaling op sy app-winkel, wat hoër pryse vir verbruikers beteken.

'n Ontleder het gewaarsku die jongste uitspraak sal Google se verkope beslis knou. Van die ingrypings is dat Alphabet die beperkings moet ophef wat ontwikkelaars verhoed om mededingende markplatforms en betaalstelsels op te rig wat met Google Play meeding.

Een ontleder reken die ergste scenario is dat dit Alphabet se bruto wins met meer as $1 miljard kan laat krimp. Sy wins was $14,66 miljard in 2020.

Alphabet se aandeelprys op die New Yorkse aandelebeurs het oornag met tot 2,5% gedaal. Tot en met verlede week was sy aandeelprys tot dusver vanjaar al 20% sterker.

Die regter het beslis dat Google vanaf 1 November drie jaar lank nie meer ontwikkelaars mag betaal om slegs sy app-winkel te gebruik nie. Google mag hulle terselfdertyd nie verhoed om aan hul kliënte te verduidelik hoe om hul apps regstreeks af te laai nie.

Google mag ook nie meer ontwikkelaars dwing om slegs sy betaalstelsel te gebruik nie. Mededingende app-winkels moet die volgende drie jaar toegang kry tot Google se katalogus in 'n poging om hulle te help ontwikkel en groei.

Evelyn Mitchell-Wolf, 'n ontleder van EMarketer, stem saam dat Google se inkomste waarskynlik 'n knou sal kry, maar dit kan 'n tyd duur om ten volle deur te syfer omdat Google Play 'n verstek-opsie bly op Android-fone. Selfs as Google Play nie vooraf geïnstalleer is nie, het dit aansienlike handelsnaam-erkenning onder verbruikers, meen sy.

Tim Sweeney, uitvoerende hoof van Epic Games, het die hofbeslissing as 'n oorwinning bestempel. - BBC en Bloomberg

SPELETJIES VANDAG

CTA