Dinsdag 30 September is die laaste dag waarop jy Naspers-aandele kan koop om deel te wees van die onderverdeling van die internetreus se aandele.
Teen Maandag 6 Oktober sal die onderverdeling van krag wees, en kry elke houer van een gewone N-aandeel van Naspers vyf aandele in die plek daarvan, maar met dieselfde totale waarde.
Naspers het Maandag verdere besonderhede oor sy beoogde onderverdeling van aandele gegee.
Dit is nadat die onderverdeling met die nodige meerderheid op die aandeelhouersvergadering in Augustus goedgekeur is.
Die nodige wysigings aan sy akte van oprigting is ook reeds by die Kommissie vir Intellektuele Eiendom en Maatskappye geregistreer.
Dié met aandeelsertifikate moet vorm instuur
Naspers-aandeelhouers wie se aandele reeds gedematerialiseer is – dus in elektroniese formaat is – hoef niks te doen nie en hul aandeelrekeninge sal op Maandag 6 Oktober outomaties aangepas word om die onderverdeling aan te toon.
Aandeelhouers wat nog fisieke aandeelsertifikate het, moet van Maandag af die nodige blou vorm aanvra by Naspers of die oordragsekretaris. Dit is sodat die nuwe aandele wat aan hulle uitgereik word, in gedematerialiseerde vorm aan hul makelaarsrekening oorgedra kan word. Daar sal geen nuwe N-aandele in gesertifiseerde vorm uitgereik word nie. Hulle moet sorg dat Naspers die vorm op Vrydag 3 Oktober teen 12:00 ontvang het.
Meer toeganklik
Volgens Naspers is die aansienlike styging in die aandeelprys oor die laaste jare die rede vir die onderverdeling.
Naspers-aandele verhandel teen van die hoogste pryse per aandeel op die JSE, en dit oorskry die gemiddelde prys per aandeel van die JSE se Top-40-indeks verreweg.
Die Naspers-direksie het gevolglik besluit om die toeganklikheid van sy aandele aan ’n breër beleggingsgemeenskap te verbeter, sonder om die bestaande ekonomiese en stemreg-belange van aandeelhouers te verwater.
Die idee is ook dat die onderverdeling sal help om die Naspers-aandeelprys meer in pas te bring met die aandeelprys van Prosus, wat die hoof-filiaal van Naspers is.
Naspers verhandel tans teen ongeveer R5 873 per aandeel. Ná die onderverdeling sal ’n aandeelhouer dus pleks van een aandeel ter waarde van R5 873, in besit wees van vyf aandele wat elk R1 175 werd is, sou die aandeelprys teen 6 Oktober presies dieselfde as tans wees.
Ander maatskappye op die JSE met soortgelyke hoë aandeelpryse sluit in Capitec, wat teen R3 544 verhandel, en Richemont, wat teen R3 243 verhandel. Die bierreus ABinBev verhandel teen net meer as R1 000 op die JSE, en British American Tobacco is tans om en by R981.
• Netwerk24 is deel van Media24, ’n filiaal van Naspers.

















