Dissipline is net so belangrik soos om groot te dink, sê Fabricio Bloisi, uitvoerende hoof van Naspers en sy filiaal Prosus, in 'n brief aan aandeelhouers waarin hy 'n voorsmakie gee van die groep se resultate vir die boekjaar tot einde Maart.
Bloisi maak dié opmerking om te beklemtoon dat Prosus nie net voor die voet belê nie, maar sy portefeulje ondernemings aktief bestuur met die oog daarop om wins te verhoog en op die voorpunt van innovasie te bly.
In die brief skryf hy ook inkrementele groei is belangrik, "want ons moenie ons resultate in miljoene meet nie, maar in baie, baie miljarde, en ons sal daar kom".
Die groep se jaarresultate word in Junie uitgereik. Bloisi, 'n Brasiliaan, is sedert Julie verlede jaar Prosus en Naspers se uitvoerende hoof.
Onder die hoogtepunte is dat die groep se e-handelfirmas as geheel $435 miljoen aangepaste verdienste voor rente en belasting (a-ebit) gemaak het, veel meer as die teiken van $400 miljoen wat Bloisi in Oktober gestel het. Ebit is 'n maatstaf van wins uit bedrywighede.
Bloisi wy 'n deel van sy brief aan die vordering wat gemaak is om Prosus se kultuur te verander, met 'n fokus op "entrepreneurskap, resultate, innovasie, mense en impak". Danksy 'n nuwe bestuursmodel glo hy die bestuurspan is "beter ingelig, betrokke en bemagtig om risiko's te neem en innovasie en groei aan te dryf".
Nog hoogtepunte sluit in:
• OLX, wat geklassifiseerde advertensies verkoop, het sy inkomste met 20% gegroei, vinniger as enigeen van sy mededingers. OLX se a-ebit het met 50% tot sowat $270 miljoen toegeneem "en ons glo die aanloopbaan vir verdere groei is lank". Hy sê daar is baie ruimte om die winsgrens te verbreed.
• Die Suid-Amerikaanse kosafleweraar iFood lewer meer as 120 miljoen bestellings per maand af en sy krediet- en betalingsafdeling groei ook. Meer as 40 miljoen bestellings per maand word gedoen deur die subskripsieproduk Clube. iFood se a-ebit het meer as verdubbel tot $200 miljoen "en ek verwag verdere beduidende verbeteringe volgende jaar". Bloisi was voor sy aanstelling as Prosus se uitvoerende hoof die hoof van iFood.
Indië
Bliosi beklemtoon, soos voorheen, dat Indië "ongelooflike geleenthede" vir Prosus bied.
Die maatskappy het onlangs in die e-taxidiens Rapido belê. Die diens doen meer as 3 miljoen ritte per dag en sy groei verdubbel elke jaar.
In geheel het Prosus al $8,6 miljard in Indië belê en dit het al "baie goeie opbrengs" opgelewer.
Die kosafleweringsdiens Swiggy, waarin Prosus sedert 2017 nagenoeg $1,3 miljard belê het, is verlede jaar genoteer. Prosus het sowat $500 miljoen verdien deur sy belang van 31% tot onder 25% te verminder.

Verkrygings en verkope
Bloisi is optimisties oor die verkryging van Despegar en Just Eat Takeaway, twee ondernemings wat reeds "winsgewende leiers in hul bedrywe" is.
"Ons het baie vertroue dat ons kan help om hul groei en winsgewendheid verder te versnel om beduidende waarde te skep."
• Despegar is die grootste aanlyn reisagentskap in Latyns-Amerika. Bloisi hoop iFood se 60 miljoen klante sal tot Despegar se groei bydra.
• Just Eat Takeaway is 'n Europese kosafleweraar, met 'n afdeling in Brittanje. Bloisi sê dis sterk handelsname wat in "baie aantreklike markte" bedrywig is.
Reguleerders moet nog die verkrygings goedkeur.
"Eerder as om in baie nuwe goed te belê, is my duidelike prioriteit nou om albei maatskappye in Prosus in te bring en hulle sterk te laat groei."
Prosus het in die boekjaar $2,4 miljard verdien deur belange te verminder of verkoop. Dit sluit in die verkoop van 'n deel van die belang in Swiggy met dié se notering, die verkoop van Trip en Tazz (ondernemings in China en Roemenië), die vermindering van die belang in Udemy en die verkoop van betalingsondernemings in Latyns-Amerika en Afrika.
"Ons sal aanhou om ons portefeulje aktief te bestuur."
Prosus het ook in maatskappye belê wat kunsmatige intelligensie (KI) inspan, soos:
• Corti, wat KI-stelsels vir gesondheidsorg ontwikkel;
• Zapia, 'n KI-assistent op WhatsApp;
• Altera, 'n navorsingsfirma wat KI-agente gebruik; en
• Taktile, 'n KI-model vir risiko's in betalings en finansiering.
Terugkoop van aandele
Bliosi sê die groep het meer as $35 miljard se waarde vir aandeelhouers geskep deur sy jare lange aandeelterugkoopprogram. Die vrylik verhandelbare aandele van Prosus is só met 27% verminder en van Naspers met 25%.
Wanneer maatskappye hul eie aandele terugkoop, verminder die aantal aandele. Dit beteken die opbrengs per aandeel neem toe, en gevolglik ook die dividend per aandeel wat aandeelhouers verdien.
"Dis die grootste terugkoop in sy soort as 'n persentasie van markwaarde, en ek weet ons aandeelhouers waardeer dit.
"As ek nou ná 10 maande in die pos terugkyk, het ek meer vertroue as ooit, en ek is seker dat Prosus 'n onderskeidende Europese maatskappy is wat ons vennote 'n merkwaardige geleentheid bied om hul portefeuljes te diversifiseer, en groei, wins en innovasie buite die VSA te vind."
Hy sluit sy brief af met "Um abraço", 'n informele Brasiliaanse uitdrukking vir "sien jou" oftewel "tot siens".
- hanlie.stadler@24.com





















