MultiChoice absorbeer 'n paar rand self wanneer belasting op toegevoegde waarde (BTW) na verwagting op 1 Mei tot 15,5% styg.
Die maatskappy het pas sy nuwe tariewe uitgereik, selfs al is die BTW-verhoging nog 'n vraagstuk waaroor politieke partye druk onderhandel.
Die grootste verhoging is die R4 op DStv Premium, wat tot R983 styg. Dit beteken vergeleke met verlede jaar is dié pakket R54 duurder, nadat die prys op 1 April met R50 per maand gestyg het.

Ander pakkette word op 1 Mei met tussen R1 en R3 duurder.
Die tarief vir Showmax, DStv Stream en flieks word nie ná 1 April se verhoging weer verhoog nie. Dit beteken effektiewelik MultiChoice se winsgrense gaan effens krimp.
MultiChoice rond die verhoging van 50 basispunte in BTW tot die naaste rand af, in die meeste gevalle tot voordeel van kykers. Kykers betaal tussen 8c en 47c minder as wat die BTW-verhoging tegnies vereis. Net vir Compact Plus is die afronding 23c meer as wat die BTW-verhoging vereis.
Banke, internetdiensverskaffers en ander diensverskaffers het verbruikers die laaste paar dae ingelig oor die BTW-verhoging.
LEES OOK | BTW: Effens hoër inflasie op pad - maar die impak kan uitkring
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het reeds die inligting oor die BTW-verhoging uitgereik.
Dis ondanks die feit dat onderhandelinge op die politieke front nog voortsleep. Die tesourie is op 3 April gevra om nog 30 dae na alternatiewe vir 'n BTW-verhoging te soek, maar dié 30 dae loop uit nadat die BTW-verhoging op 1 Mei in werking moet tree.
LEES OOK | 10 werkdae vir besluit oor BTW: SMS'e oor nuwe pryse reeds uit
Daar is nou nog nege werkdae oor voordat die BTW-verhoging van krag moet word.
- hanlie.stadler@24.com





















