Rek-vraestel was billik – onderwysers

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Onderwyskenners meen die eerste rekeningkunde-vraestel, wat matrieks Donderdag geskryf het, was baie billik.

'n Lid van Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) sê die tyd wat vir die vrae toegeken is, was billik.

"Indien leerlinge hul formate goed ken en verstaan, sou hulle die bate-verkope maklik kon voltooi. Leerlinge wat ou vraestelle so ver terug soos 2020 uitgewerk het, sou 'n paar aansuiwerings herken.

"Sommige van die algemene aansuiwerings was baie eenvoudig. Natuurlik was daar ook die ou bekende prysberekeninge en 'n vars weergawe van die direkteursgelde-aansuiwering."

Die kenner waarsku dat leerlinge met wiskundegeletterdheid as vak moontlik met die berekeninge kon vasval en gevolglik die tydstoelating oorskry.

Die ontleding en vertolking was 'n vroeë Kersgeskenk vir matrieks.

"Gauteng se leerlinge sou veral verlig wees met die formate in die antwoordboek ná hul nare ondervinding in die Junie-eksamen. Leerlinge wat poog om 90% of meer te behaal, moes net fyn lees en mooi dink om nie onnodig punte te verloor by vraag 2 nie."

Die onderwyser sê vraag 3, wat gewoonlik die taai vraag is, was die hoogtepunt van die vraestel.

"Leerlinge kon dit vinnig kafdraf en maklike punte versamel. Leerlinge wat die 2020- uitgelekte rekeningkunde-vraestel uitgewerk het, sou glimlag oor die aandeelhoudingberekeninge."

By die laaste vraag sou leerlinge wat nie besigheidstudies as vak het nie, verlig gewees het oor die teorievrae.

"Dit was baie elementêr en op die man af."

'n Onderwyser verbonde aan die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het die vraestel as gemiddeld en regverdig beskou.

"Maar sommige aansuiwerings sou baie moeilik gewees het vir leerlinge met Afrikaans as tweede taal. Dis die eerste vraestel in 'n lang ruk wat 'n volledige balansstaat en kontantvloeistaat in het.

"Anders as dit wil ek noem, jaar ná jaar vra ons dat rekeningkunde, wat 'n vaardigheidsvak is, vroeër eerder as later geskryf moet word. Die kinders verloor vaardighede soos die weke aanrol wat hulle lewenswetenskappe leer en nie rekeningkunde doen nie."

'n Onderwyser verbonde aan die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole sê daar was niks snaaks aan die vraestel nie en leerlinge het lekker geskryf.

"Daar was hier en daar 'n moeilike aansuiwering gewees, waar hulle mooi moes gedink het. Vraag 3,5 moes jy bietjie uit die boks gedink het. Niemand het gekla dat hulle nie kon klaarkry nie."

By dié vraag moes matrieks ene Grant Waters se %-aandeelhouding, regte-uitgifte en terugkoop van aandele bereken.

SPELETJIES VANDAG

CTA