Vegtersbeurte deur Janneman Malan (76, 204 balle) en die eindkolwers, en reën later in die dag het die Dragons Woensdag in Potchefstroom 'n moontlike sege in die meerdag-krieketreeks teen die Rocks ontsê.
Die kragmeting het onbeslis geëindig met die tuisspan op 87/3, op soek na nog 79 lopies, toe spel weens reën afgelas is.
Die Rocks het hul tweede beurt op die vierde en laaste dag op 92/7 goed in die knyp hervat met Malan op 25 en Shaun von Berg, wat negende gaan kolf het, onoorwonne op 5.
Die twee het uiteindelik 48 om die agtste paaltjie aangeteken toe Von Berg (28, 52b) sy paaltjie verloor het.
Malan het in Hardus Viljoen (27, 74b) nog 'n gewillige vennoot gehad. Hulle het 65 om die tiende paaltjie aangeteken voor Delano Potgieter (5/43) Malan been voor paaltjie betrap het om sy vyftal aan paaltjies te voltooi.
Dié goeie eindpoging het die besoekers gehelp om 200 in hul tweede beurt aan te teken.
Die Dragons het twee vroeë paaltjies in hul tweede beurt verloor op soek na 166 om te wen.
Lesego Senokwane (47*) en Christopher Britz (29) het die kolfbeurt met 70 lopies om die derde paaltjie herstel.
Britz was met hervatting van die laaste sessie Achille Cloete (2/15) se tweede slagoffer.
Die tuisspan het 87/3 gehad toe dit begin reën het en kon toe nie sy eerste meerdagsege van die seisoen behaal nie.
• Weens reën is geen aflewering geboul in die Knights en Lions se wedstryd nie, wat vroeg op die laaste dag in Bloemfontein reeds afgelas is.
Die Knights se kanse om relegasie na Afdeling 2 vry te spring is so te sê daarmee heen. Hulle moet derde in die meerdagreeks eindig en die Dragons laaste as hulle wil oorleef.
Die Dragons speel van Sondag af weer tuis teen die Westelike Provinsie.
Die Rocks is van Sondag af by Tuks teen die Titans in aksie en die Knights speel weer tuis teen die Dolphins.
Die Lions en Warriors is op die Wanderers slaags.
Die toetsspelers sal almal in aksie wees met die voltooiing van die SA20-kitsreeks, met die oog op die eerste toets teen die Wes-Indiese Eilande wat op 28 Februarie in Centurion begin.
Die Windies speel van Dinsdag af ook 'n opwarmwedstryd teen 'n SA uitnodigingspan in Benoni.




















