Die grootste storie van verlede naweek se Formule Een (F1) Grand Prix in Monaco het niks uit te waai met die huidige topdrie spanne (Red Bull, Aston Martin en Mercedes) nie. Die grootste storie is ook nie oor die topvyf of selfs topsewe op die renjaers se puntelys nie.
Die grootste storie van verlede naweek het niks te make met die reënweer, ligte botsings, die vinnigste rondte of renjaers wat nie kon klaarmaak nie.
Nee, die grootste storie uit die Monaco Grand Prix van 2023 was wie in die derde plek op die podium gestaan het.
"Estie Bestie is on the podium, baby!" het 'n verheugde Esteban Ocon gesê kort nadat hy in sy pienk-en-blou Alpine derde geëindig het.
Dit is selde dat 'n derde plek 'n eerste plek troef - maar ek wil my verstout deur te sê Ocon se derde plek in Monaco was selfs indrukwekkender as sy eerste plek in Hongarye twee jaar gelede.

Die absolute vreugde in sy oë toe hy besef hy is op die podium, die glimlag wat van oor tot oor strek, die onverdunde, uitbundige vreugde en feesvieringe van die hele Alpine-span was genoeg om selfs die hardebaarde 'n bietjie emosioneel te maak - maar as mens in ag neem dat selfs die huidige "nat-weer-kampioen", Lewis Hamilton, ná verlede naweek se Grand Prix in Monaco gebieg het dat hy gesukkel het, is Ocon se plek op die podium selfs indrukwekkender. Hamilton het selfs vir Ocon op Twitter geluk gewens met sy vertoning.
Voordat Ocon in Monaco weggetrek het, het 'n mens nie veel aan hom gedink nie. Die aksie gebeur immers tussen Red Bull se Max Verstappen en Sergio Pérez, Aston Martin se Fernando Alonso, Mercedes se Hamilton en George Russell en Ferrari se Charles Leclerc en Carlos Sainz. En Ocon het self erken dat hy gehoop het vir enige plek in die toptien in Monaco - maar toe oortref hy sy eie stoutste verwagtinge.
Ja, die feit dat Charles Leclerc drie plekke laer moes wegtrek as straf weens 'n flater in die kwalifiserende rondte, het Ocon 'n hupstoot gegee.
Dieselfde kan gesê word van Pérez se teleurstellende plek en die reën wat spanne se strategieë deurmekaargekrap het.
Maar Ocon het elke hupstoot so goed benut en opnuut sy vernuf agter die stuur gewys toe hy daarin kon slaag om die renjaers wat ver bo hom op die puntelys staan in sy truspieël te hou. Hy het nie 'n voetjie verkeerd gesit nie.
Vanweë al dié redes was sy derde plek in Monaco meer van 'n hoenderveloomblik as sy oorwinning in Hongarye in 2021.
Wie weet wat môre in Spanje gaan gebeur . . . Dalk verras Ocon ons weer. Dalk is dit hierdie keer Pierre Gasly, Lando Norris of Lance Stroll se beurt om vir hoendervel te sorg.
Net die tyd sal leer - maar vir eers hoop ek die joernalis en televisieaanbieder Jeremy Clarkson kom sy belofte na om vir die hele Alpine-span bier te koop.
Ná Monaco verdien hulle elke druppel.
- Wondergem is 'n redaksielid van Beeld en verknog aan F1.

















