Sokker

Amajita-held dink MLS is ’n beter opsie as EPL

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Tylon Smith spring hoog om die bal met die kop te slaan in Amajita se eerste wedstryd in die o. 20-Afcon-toernooi teen Egipte in die Kaïro Internasionale Stadion. Foto: Gallo Images
Tylon Smith spring hoog om die bal met die kop te slaan in Amajita se eerste wedstryd in die o. 20-Afcon-toernooi teen Egipte in die Kaïro Internasionale Stadion. Foto: Gallo Images

Die Amajita-held Tylon Smith sê anders as die gewone drome om eendag in die Engelse Premierliga (EPL) te speel, mik hy vir Amerika se Major League Soccer (MLS).

Die MLS is Amerika se topliga, waar sterre soos Lionel Messi tans uitdraf vir Inter Miami, wat besit word deur die voormalige Engelse kaptein David Beckham.

Hoewel sulke name groot trekpleisters is, vertel dié speler wat by die o.20-Afrikabeker-toernooi as die beste speler aangewys is dat dít nie die rede is waarom hy daarna kyk vir die toekoms nie.

"Vir my gaan dit oor die styl en tipe sokker en ook waar my talente sal uitstaan. Ek dink dit sal in die MLS wees, veral omdat ons Suid-Afrikaanse spelers nie so groot is nie," sê Smith.

Smith sê dis lekker om te droom om eendag te speel in die EPL, waar so baie sokkerhelde vandaan kom, maar dit het nie regtig sin nie.

Smith in aksie in 'n oefening in Stellenbosch. Foto: Gallo Images
Smith in aksie in 'n oefening in Stellenbosch. Foto: Gallo Images

"Jong (Suid-Afrikaanse) sokkerspelers droom altyd om in die EPL te speel, maar ons is nie altyd gebou vir daardie liga nie. Jy leer dit wanneer jy regtig ernstig begin speel. Spelers wat goed vaar in Europese ligas, is groot en sterk gebou, en ek voel soms ons moet na ander ligas kyk. Suid-Afrikaanse spelers het ander vaardighede, en Europese klubs soek na 'n groot en sterk liggaamsbou."

Die Stellenbosch-verdediger sê hy het nie 'n gunsteling-MLS-span nie, maar sien dat Olwethu Makhanya, ook 'n voormalige Stellenbosch-verdediger, goed presteer in die Amerikaanse klub Philadelphia Union.

"My doel is om my in die Stellenbosch-span te vestig en gereeld in die Premiersokkerliga (PSL) te speel. As ek dan die kans kry, sal ek graag in Makhanya se voetspore wil volg."

Die 19-jarige Tylon Smith spog met sy trofee vir Afcon se o. 20-Speler van die Toernooi. Foto: Werner Wippenaar
Die 19-jarige Tylon Smith spog met sy trofee vir Afcon se o. 20-Speler van die Toernooi. Foto: Werner Wippenaar

Die 19-jarige wat oefenveld toe gedraf het as opwarming wanneer daar nie taxi's beskikbaar was nie, sê dit gaan net harde werk en dissipline wees wat hom wel daar sal kry.

"Die Amajita-span het hard gewerk in ons voorbereiding vir die Afcon-toernooi en dit het ons gehelp om sterk te bly en tot in die eindstryd te vorder en uiteindelik die toernooi te wen. Ek hoop om hierdie eienskappe my loopbaan lank toe te pas, maak nie saak in watter span ek speel nie."

- werner.wippenaar@24.com

CTA