Daar is verrassende ooreenkomste tussen die onlangse Vanderbijlpark-taxibotsing en ’n taxibotsing met ’n trein in die Wes-Kaap in 2010. In albei voorvalle was onskuldige leerlinge die slagoffers, hoewel die bestuurders oorleef het, skryf Gustaf Pienaar.
Dit lyk of die ergste stof rondom die gru-botsing by Vanderbijlpark, waarin 14 skoolkinders dood is, nou so effens gaan lê het. ’n Mens kan seker sinies opmerk dat daardie skokkende botsing sedertdien “ingehaal” is deur berigte van ander ewe skokkende voorvalle van doodslag – nie net in Suid-Afrika nie – wat die daaglikse nuus oorheers.
Die bestuurder van dié taxi, die 22-jarige Ayanda Dludla, het die botsing wonderbaarlik met slegs geringe beserings oorleef. Hy het sedertdien in die hof verskyn op 14 aanklagte van moord en drie van poging tot moord. Daar is ook ’n rits ander statutêre aanklagte waarop hy teregstaan, wat nie nou ter sake is nie.
Daar is verrassende ooreenkomste tussen die Vanderbijlpark-botsing en ’n botsing tussen ’n minibustaxi en ’n trein in 2010 by ’n spooroorgang naby Blackheath in Kaapstad. In daardie botsing is 10 leerlinge dood en vier ernstig beseer. Jacob Humphreys, die bestuurder, is eweneens ernstig beseer, maar het mettertyd sodanig herstel dat hy tereggestaan het op 10 aanklagte van moord en vier van poging tot moord.
Die Blackheath-ongeluk
Wat het daardie dag gebeur? Humphreys, wat ’n lang loopbaan by Transnet as ’n rangeerder gehad het, het ná sy aftrede met ’n taxidiens vir die vervoer van skoolkinders begin. Op sy roete moes hy die betrokke spooroorgang oor ’n tydperk van 10 jaar daagliks in skoolkwartale gebruik.
Dié noodlottige dag was daar ten tyde van sy aantog na die oorgang rooi waarskuwingsligte wat aangedui het dat ’n trein van links aan’t kom was. In reaksie op die waarskuwende ligte het ’n ry motors reeds wetsgehoorsaam by die oorgang stilgehou.
Humphreys het hulle in die oop baan vir aankomende voertuie verbygesteek en die oorgang binnegery nadat die valboom reeds laat sak is. Hy het onmiddellik links geswenk om die valboom aan die oorkant van die spoor te vermy. En toe tref die trein sy taxi op die linkersy.

In sy latere verhoor het die hof die getuienis van twee oorlewende leerlinge aanvaar dat Humphreys die spoorlyn by twee vorige geleenthede met ’n soortgelyke maneuver suksesvol voor ’n aankomende trein oorgesteek het.
Die staat moes bewys dat Humphreys die dood van die 10 leerlinge opsetlik veroorsaak het. Moord word immers formeel omskryf as die wederregtelike, opsetlike doodmaak van een mens deur ’n ander.
‘Dolus directus’ en ‘dolus eventualis’
Die strafreg erken vier verskyningsvorme van opset, waarvan twee tans ter sprake is. Die eerste is oogmerkopset – dolus directus. Die moordenaar skiet sy slagoffer dood; slaan hom met ’n “stomp voorwerp” oor die kop; steek hom met ’n mes; vergiftig hom. Die voorbeelde is legio. Dit is nie wat Humphreys beoog het nie, maar hou dolus directus in gedagte.
Die tweede verskyningsvorm van opset ter sprake is opset by moontlikheidsbewussyn – dolus eventualis, wat op omtrent almal se lippe was ten tyde van die opspraakwekkende moordverhoor van Oscar Pistorius.
Die toets is tweevoudig: Toegepas op Humphreys is die eerste element die vraag of hy subjektief die moontlikheid voorsien het dat hy die leerlinge se dood in ’n botsing met ’n trein kon veroorsaak het. Indien ja, volg die tweede element van die toets: Die vraag of hy hom met daardie moontlikheid versoen het en nogtans op sy ingeslane weg voortgegaan het.
Die ondersoek na opset is ’n subjektiewe toets: Daar moet deur direkte getuienis en/of bo redelike twyfel deur afleidings uit die beskuldigde se handelinge bepaal word wat regtig “in sy kop” aangegaan het – hoe bisar dit ook al mag gewees het.
Dis verkeerd om by die ondersoek na opset aan te voer dat hy “veronderstel was” om die gevaar van ’n noodlottige botsing te voorsien en hom daarmee te versoen, want dan verskuif die toets na wat ’n redelike mens onder die omstandighede sou doen. Dit is die objektiewe toets vir strafbare manslag (die nalatige veroorsaking van iemand se dood) en nie meer moord se subjektiewe ondersoek na wat spreekwoordelik in ’n beskuldigde se kop aangegaan het nie.

Regter Robert Henney van die hooggeregshof in Kaapstad het Humphreys skuldig bevind soos aangekla en hom tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis. Die appèlhof het hom egter onskuldig bevind op die aanklagte van moord en poging tot moord en dit vervang met ’n skuldigbevinding aan 10 aanklagte van strafbare manslag. Omdat daar nie in ons reg ’n misdryf soos poging tot strafbare manslag bestaan nie, het die vier aanklagte van poging tot moord weggeval.
Appèlregter Fritz Brand het die hof se besonder helder en leesbare uitspraak gelewer. Hy het bevind dat Humphreys wel skuldig was aan die eerste element van dolus eventualis, naamlik of hy die moontlikheid voorsien het dat ’n botsing met ’n trein noodlottige gevolge kan inhou. Dit kan immers nie anders nie, het Brand geredeneer.
Met Henney se bevinding dat Humphreys hom met die moontlikheid van ’n noodlottige botsing versoen het en die streng bewaakte spoorlyn nogtans oorgesteek het (die tweede element van dolus eventualis), het Brand egter nie saamgestem nie. Met verbluffende logika het hy bevind dat Humphreys immers nie in die proses sy eie dood voorsien en hom dáármee versoen het nie. Hy was dus nie op ’n selfmoordsending nie en daarom het hy ook nie die dood van sy passasiers voorsien en hom met daardie moontlikheid versoen nie.
Daar was twee redes wat Brand nog verder in sy oortuiging gesterk het: Humphreys was by minstens twee vorige geleenthede suksesvol met ’n soortgelyke maneuver én as ’n voormalige Transnet-rangeerder was hy intiem vertroud met die verrigtinge by spooroorgange. Hy was egter skuldig aan die uiterste graad van nalatigheid – roekeloosheid – en is tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis.
Vanderbijlpark-ongeluk
In die verhoor van die bestuurder van die Vanderbijlpark-taxi sal die appèlhof se uitspraak in S. v Humphreys sonder enige twyfel ter sprake kom. Wat by sy verhoor besonder nuttig behoort te wees, is die video-opname van die botsing wat na bewering vanuit die kajuit van die aankomende vragmotor gemaak is, en wat selfs al op televisienuus vertoon is.
As dit as bewysstuk toegelaat word, sal noodwendig bevind moet word dat die beskuldigde op die laaste oomblik probeer het om ’n botsing met die vragmotor te vermy deur skerp na regs te swaai. Ook hy was dus – soos Humphreys – nie op die spreekwoordelike selfmoordsending nie. Trouens, hy was die enigste insittende van die taxi wat met slegs geringe beserings aan die andersins noodlottige botsing ontkom het.

’n Gesprek met ChatGPT oor of daar navorsing bestaan oor die vraag of ’n bestuurder in die aangesig van ’n onvermydelike en vry ernstige botsing sy eie welsyn instinktief bo dié van sy passasiers sal stel, het geen duidelike antwoord opgelewer nie: Dis oorwegend ’n kwessie van morele oortuigings, lui die antwoord.
Maar in die jeugdige Dludla se geval het daardie drastiese laaste maneuver hom – en hom alleen – die beste gepas. Dit mag daarop dui dat hy die lewe van sy jong passasiers op daardie laaste oomblik willens en wetens as volkome onvermydelik opgeoffer het. Dan mag daar moontlik bespiegel word of dit nie ’n geval van selfs oogmerkopset (dolus directus) was nie. En dán praat ons van moord...
Maar laat ons nie die dikwels onvoorspelbare gang van hangende hofgedinge vooruitloop nie.
• Pienaar is ’n afgetrede regsgeleerde van Vleesbaai. Sy menings weerspieël nie noodwendig Netwerk24 s’n nie.
3881



















