'n Dekade gelede het sy besluit om diep in sy hart, eerder as diep in die (brandewyn)bottel te kyk, sy lewe drasties verander, het Brent Lindeque aan Hanri Wondergem vertel.

"Ons is almal gebroke en seer. Ons almal hang aan 'n draadjie - daarom het ons goeie nuus nodig," sê Brent Lindeque (39).
Dis 'n reënerige lentedag. Lindeque sit op sy stoep by sy huis in 'n gholflandgoed in Johannesburg. Hy is meestal vrolik en opgewek, lag maklik en met oorgawe.
"Ek is immers die Good Things Guy," sê hy oor die gewilde goeienuuswebwerf wat hy in 2015 gestig het.
Mense verwag van hom om gelukkig te wees.
"Ek is 'n mens, so ek het ook my slegte dae. Ek glo nie in toxic positivity nie," sê hy, skielik ietwat somber.
Dan helder sy gesig weer op as hy 'n hadida hoor roep. "Daar is 'n nes met 'n hadida-kuiken wat die oulikste klikgeluidjies maak," vertel hy en wys na 'n boom op sy lowergroen grasperk.
"Maar waar was ons?"
Hy vertel van sy kinderjare, sy vinnige opgang na sterstatus, die slaggate langs die pad en sy seerste seer - toe sy pa, Philip Lindeque, in 2011 aan malaria dood is. "Dit was skielik, tragies en aaklig."
Goeie nuus is dalk sy brood en botter, maar dit is beslis nie 'n skild teen die aanslae van die lewe nie.
Om anders te wees
"Ek was 'n baie gelukkige kind . . . tot ek nie meer een was nie."
Lindeque verduidelik dat hy in sy laerskooljare besef het, nee, gewéét het, hy is "anders" al het hy toe nog nie die woord daarvoor geken nie.
Nou ken hy die woord: Gay.
"Maar as kind is jy nie seksueel aangetrokke tot enigiets nie, jy weet net jy is anders. Ek het dogtertjies se geselskap geniet en nie van sport gehou nie. Ander seuntjies het my geboelie."
Hy som sy laerskooljare op as "moeilik, maar met bepalings en voorwaardes".
"Daar was dogtertjies wat gaaf was, onderwysers en maats wat liefdevol was en my probeer beskerm het, en my familie was 'n ongelooflike ondersteuningsnetwerk."
In gr. 8 in die Hoërskool Marais Viljoen in Alberton het dit vir Lindeque soos 'n nuwe begin gevoel. "Ek het begin uitpluis wie en wat ek is." Hy het vriende gehad en is nie geboelie nie. "Dit was pret, dit was lekker."
Hy het in sy hoërskooljare begin werk, eers in restaurante en later by 'n trou-venue. Nadat hy in 2002 gematrikuleer het, het Lindeque geregistreer vir 'n BCom-graad aan die Universiteit van Johannesburg. "Maar ek het opgeskop nog voor ek eers begin het." Tot die skok en afgryse van sy ouers.
"Ek het gematrikuleer in die jaar toe ek 17 geword het. Ek was nog baie kinderlik. Die idee om een ding te gaan studeer en dan een ding te wees vir die res van my lewe was vreesaanjaend. Ek kon dit net nie doen nie." Hy het besluit om 'n jaar "af te vat".
En toe hoor hy van vriende wat in die VSA gaan werk. "By 'n karnaval van alle plekke."

Rondomtalie in VSA
Vir sy heel eerste oorsese reis is hy na New York.
Salig onbewus van die handearbeid wat op om hom wag om mallemeules en tuimeltreine op- en af te slaan vir die karnaval wat van dorp na dorp reis.
"Daardie eerste dag het ek al gedink ek gaan my ouers bel en vra om my huis toe te bring. Ek was hierdie preutse seuntjie uit die gasvryheidsbedryf wat skielik swaar goed moes ronddra met vuil naels. Dit was absurd."
Maar hy was so gedaan dat hy eers net wou slaap. Toe hy wakker word, het hy besluit om vas te byt.
"En dit was die wonderlikste reis. Ek was heeltemal uit my gemaksone. Ek het 'n nuwe wêreld gesien."
Hy wys na die hoendervel op sy arm terwyl hy vertel hoe hy tot die besef gekom het dat daar veel meer is as die wêreld wat hy ken.
"Ek het besluit my lewe moet groter wees."
Toe sy kontrak met die karnaval eindig, het hy reeds geweet hy gaan terugkeer na die VSA. En hy het.
"The American Dream!" sê hy in 'n Amerikaanse aksent en vertel dat hy die karnaval vir 'n deftige klubhuis in Boca West in die Amerikaanse deelstaat Florida verruil het.
Sy "Amerikaanse droom" het egter soos mis voor die son verdwyn toe hy siek word en stoksielalleen in 'n woonstel in die vreemde sit. "Ek het besef dat ek nie die regte ondersteuning het om die beste weergawe van myself te wees nie." Toe pak hy sy tasse. "Huis toe!"
Hy het besluit om deeltyds bemarking te studeer by die IMM Graduate School en het ook deeltyds gewerk, eers weer by die trou-venue en later by 'n klerewinkel wat manspakke verkoop.
Toe kry hy in sy derde studiejaar 'n aanbod om as geleentheidsbestuurder te werk. "Ek het opgeskop om my loopbaan te begin."
Hy is spoedig tot takbestuurder bevorder en toe dit voel of hy homself teen 'n plafon vasgewerk het, het hy sy eie onderneming begin.
Die chaosteorie
Lindeque se onderneming, Chaos Theory, het in 2010 begin sake doen. Die onderneming fokus op alles van borgskappe tot korporatiewe geleenthede, konferensies en verbruikersgerigte geleenthede.
Deesdae bestuur sy lewensmaat, Andrew Ross, Chaos Theory.
Maar waar kom die naam van die onderneming vandaan? Chaosteorie is 'n tak van wiskunde te make met dinamiese stelsels wat daarop dui dat klein verskille in die beginstoestande groot verandering in die afloop van die stelsels kan teweeg bring. 'n Bekende konsep binne die chaosteorie is die "vlindereffek," wat verwys na die idee dat die fladder van 'n vlinder se vlerke in Brasilië 'n tornado in Texas kan veroorsaak.
"Die storie van my lewe. 'n Klein daad wat alles verander," sê Lindeque oor sy eie vlindereffek van 2014.
Destyds het mense deelgeneem aan sogenaamde Nek-nominasies - jy verfilm jouself terwyl jy 'n drankie (gewoonlik alkoholies en in groot hoeveelhede) eensklaps in jou keel afgooi en nooi vriende uit om dieselfde te doen deur die video op sosiale media te versprei.
"Ek het gewonder hoekom iemand iets so simpel sou doen en dit op die internet versprei. Verbeel jou ek is halfnaak en drink bier uit 'n toiletbak en dit word deel van my digitale voetspoor wat toekomstige werkgewers kan sien," vertel Lindeque, wat toe reeds voornemende werknemers se name op soekenjins ingetik het om te sien waarmee hulle hulself bemoei.
"Toe al kon sosiale media so ongelooflik toksies wees. Ek het gewonder hoekom ons nie eerder hierdie ongelooflike platform gebruik om iets anders te inspireer of te laat lag nie."
En toe word hy genomineer.
Hy bieg dat hy aanvanklik gehuiwer het, amper geswig het onder groepsdruk en 'n bottel brandewyn nader getrek het.
Hy het egter eerder die Suid-Afrikaanse weergawe van die RAK (random act of kindness)-nominasie begin. En dit het sy lewe handomkeer verander.

Lukrake welwillendheid
"Dis nie moeilik om iemand in nood te kry in ons land nie," vertel Lindeque en onthou hoe hy 10 jaar gelede 'n vriendin gevra het om 'n video te neem van hoe hy 'n bedelaar met lekkernye bederf.
Die video is op sosiale media gelaai in die plek van 'n Nek-nominasie. Pleks van om alkoholmisbruik aan te moedig, het Lindeque sy vriende gevra om eerder dade van welwillendheid uit te voer.
"Binne sekondes het 301 mense na die video gekyk en ek het gedink dis nogal cool, dis nogal baie."
Daardie aand het 'n vriendin hom ingelig dat meer as 10 000 mense al na sy video gekyk het.
"Stomgeslaan."
Die dae wat gevolg het, voel steeds vir hom onwerklik, want skielik het die wêreld sy naam geken - Ellen DeGeneres, Hollywood-televisiepersoonlikheid, het die inisiatief op haar geselsprogram genoem, O, The Oprah Magazine het gebel en so ook die BBC en CNN en daarna al wat 'n plaaslike nuusagentskap is.
Hy het die behoefte aan en impak van goeie nuus gesien en op 1 Augustus 2015 stel hy Good Things Guy, die goeienuuswebwerf, bekend.
Sedertdien betaal goedvoel-stories sy salaris - hetsy as die stigter van Good Things Guy, radio-omroeper (eers by Cliff Central, later by Jacaranda FM en deesdae by Primedia), motiveringspreker of seremoniemeester.
Hy en sy webwerf dien as 'n baken van hoop en positiwiteit in 'n wêreld wat dikwels oorweldig word deur negatiewe nuus.
In 'n neutedop
Brent Wade Lindeque is op 16 Januarie 1985 gebore.
"So ek word 40 in Januarie. Ek is bietjie benoud. Ek het gemaak of ek 29 is vir so lank en nou word ek 40."
Hy het in Alberton grootgeword.
Sy ma, Cheryl Macdougall en sy pa, Philip Lindeque, is in sy kinderjare geskei. "Maar ek het 'n tweede pa gekry toe my ma weer getrou het en sy naam is Fred Macdougall."
Hy is een van vier kinders in, wat hy noem, 'n "gemengde gesin".
"Ek en my ouer broer, Justin, het dieselfde ma en pa. Dan het ek 'n jonger suster wat eintlik my stiefsuster is, so ons deel nie biologiese ouers nie. Haar naam is Roxy. Dan is daar my halfbroer, Reegan, die jongste een."
Hy woon in Dainfern in Johannesburg saam met Ross, twee hondekinders (Nova en Ruby) en 'n dowe kat, Smudge.
Ross het twee kinders uit 'n vorige huwelik. "Maxine en Matthew is ook my kinders. Hul ma, Alison, is ook deel van ons lewe. Ons is 'n moderne familie. Dis eintlik baie mooi."
Lindeque en Ross was saam op My Kitchen Rules, 'n realiteitstelevisiereeks ."Dit was eers vreeslik stresvol, maar toe ek so bietjie ontspan en dit soos 'n avontuur benader, het ek dit baie geniet."
Dit het wel sy siening oor realiteitstelevisie bietjie verander. "Realiteitstelevisie is taai vir die deelnemers. Jy word skielik in die kollig geplaas, en sodra die reeks verby is, is die kollig ook net weg. En party dinge is nie realiteit op realiteitstelevisie nie."
Sy gunstelingreisbestemming is Kerala in Indië.
Sy gunstelingfliek is Eat, Pray, Love en sy gunstelingtelevisiereeks is The Newsroom.
Hy eet graag aartappels in enige vorm en hy is mal oor sjampanje. "My ouma het my geleer mens moet altyd 'n koue bottel sjampanje in die yskas hou vir ingeval jy 'n Dinsdag wil vier."
Drake, trolle en 'n berg
Vra jy hom oor sy grootste teleurstelling antwoord hy met 'n glimlag. "Toe ek nie as prefek verkies is nie. Twee keer!"
Vir hom is teleurstellings leerskole wat net katastrofies voel op 'n sekere tydstip in jou lewe. "Maar as jy dan later terugkyk, maak dit nie regtig vreeslik saak nie."
Die loopbaan wat hy vir homself uitgekerf het "en om Kilimandjaro vir liefdadigheid te klim", is vir hom sy grootste prestasies.
Die lekker in sy lewe oorskadu die negatiewe dinge, soos die internet-trolle wat onvermydelik met 'n lewe aanlyn gepaard gaan. "Moenie die kommentaar op die internet lees nie. Daar gaan mense wees wat jou ego streel en daar gaan mense wees wat jou afkraak. Moenie dit lees nie, want nie een van die twee gaan jou enige gunsies doen nie," is sy raad.
Hy bieg dat hy in die verlede al 'n keer of twee nié sy eie raad gevolg het nie. "Dis nogal skrikwekkend hoe 'n negatiewe opmerking van 'n vreemdeling mens heeltemal kan laat ontrafel. En hierdie jaar was 'n sprekende voorbeeld."
Hy verwys na iets, of eerder iemand, wat aansienlik meer emosionele skade as 'n internettrol aangerig het.
"Ek het 'n stalker gehad."
Die aanhoudende e-posse het in Maart begin kom. Later het dit versprei na sosialemedianetwerke ook. Hy is beledig en afgekraak.
"Ek het doodsdreigemente gekry. Aanhoudend. Sonder ophou."
Lindeque het in Augustus 'n beskermingsbevel gekry en die identiteit van die man wat hom geteister het, is aan hom bekend.
Lindeque wil nie die naam van die wildvreemdeling uitbasuin nie. "As hy berugtheid soek, gaan hy dit nie by my kry nie."
Wraak is ook nie in Lindeque se aard nie. "Ek vermoed ook geestesongesteldheid speel 'n rol."
Ná die hofbevel het die teistering opgehou.
Het hy iets wys geword uit die nare ervaring?
"Die drake wat ons in ons koppe skep, is soms groter as die drake in die werklike lewe . . . en soms bestaan daardie drake glad nie. Hierdie idee wat ek van hierdie persoon geskep het, was 'n monster. Ek was doodbang. En toe ek die regte persoon vind, was dit glad nie die geval nie."
Nou hoop die ewige optimis dat sy ervaring ander booswigte en boelies sal afskrik. "Hulle moet besef dat niemand op die internet werklik anoniem is nie."

Een storie op 'n slag
Lindeque se werk gaan nie ongesiens verby nie. Oor die jare het hy talle pryse en erkenning ontvang vir sy bydraes tot die media en sy positiewe impak op die samelewing.
"Good Things Guy is soveel meer, soveel groter as ek. Ek is net die stigter," sê hy.
Daar is twee stories, uit die duisende wat hy reeds vertel het, wat vir hom uitstaan.
"Een van die heel eerste stories wat ek ooit geskryf het, was oor Andy Loughton en sy sopkombuis in Somerset-Wes. Dis die storie wat my laat besef het dat ek besig is om iets te doen wat regtig saak maak."
Die ander storie wat sy hartsnare roer, is een oor 'n Uber-bestuurder wat sy kliënt se lewe gered het deur bloot te vra hoe dit met haar gaan. "Sy was op pad om haar eie lewe te neem en die Uber-bestuurder se goedhartigheid het haar gekeer."
Hierdie verhale van welwillendheid is van die redes waarom Lindeque sê hy nooit Suid-Afrika vir goed sal verlaat nie. Nog 'n rede vir hom om te bly, is sy liefde vir die land. "Ek is smoorverlief op Suid-Afrika, op die lewe wat ek hier vir myself uitgekerf het met my huis en my familie en my vriende en my mense en my plaaslike restaurant en alles anders. Ek is mal daaroor om in hierdie land te wees."
Boonop het hy al baie gereis en is daar na sy mening nêrens 'n beter plek as ons eie land nie.
"Ja, ons het ons eie uitdagings, maar ons is ongelooflik gelukkig om hierdie land huis te noem. Ons het 'n ver pad om te stap vir gelykheid en om uitdagings soos misdaad en armoede te takel, maar die mense is wonderlik. Ons het baie dinge wat nie wonderlik is nie, maar ons het meer dinge wat wel wonderlik is."
"Tien jaar terug het ek van my plan B (om dalk te emigreer) ontslae geraak. Ek het nie 'n ander plan nie. Suid-Afrika is my plan."
Intussen sal hy voortgaan om positiwiteit te versprei en die wêreld 'n beter plek te probeer maak - een goeie storie op 'n slag.
















