’n Gesonde leefwyse is nie opsioneel nie. Jy moet gereeld oefen. Jy moet jou lyf so gesond en fiks hou as wat jy kan. Oefening is ook goed vir jou geestesgesondheid.
Ook moet jy jou geestelike oefeninge getrou doen. Bid sonder ophou. So sê Paulus ’n paar keer vir die gemeente in Tessalonika. Oordink die Here se voorskrifte dag en nag. So sê Psalm 1 vir ons. Oor en oor, dag en nag . . . dit is die sleutelwoorde hier. Net soos wat jou liggaam skade ly as jy nie gereeld oefen nie, ly jou geestelike lewe skade as jy nie gereeld jou plek by die Here inneem nie.
Bid as jy opstaan en as jy gaan slaap. Bid as jy op die pad is en by die huis. Bid as jy in ’n tou staan en as jy oefen. Oordink die Woord terwyl jy stap en as jy in jou motor is. Lees dit elke dag. Sit jou TV en jou selfoon gereeld af. Kry ’n slag al daardie nonsens uit jou sisteem waarna jy so slaafs op TV kyk.
Belê eerder in jou siel. Dit lewer groot dividende op, hier en nou en vir ewig.
Uit die Woord
En hierdie woorde wat ek vandag vir jou voorskryf, moet jy op die hart dra. Herhaal dit vir jou kinders en praat met hulle daaroor wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan. Bind dit as ’n teken om jou hand en laat dit ’n versiering op jou voorkop wees. Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte. – Deuteronomium 6:6-9
Wees altyd bly; bid sonder ophou; wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in Christus Jesus. – 1 Thessalonisense 5:16-18













