Nog altyd dink die kerk na oor Jesus. Rondom die derde en vierde eeu was dit aan die orde van die dag om oor sy wese en die aard van sy verskillende karaktereienskappe te praat. In daardie tyd het Arius en sy navolgers geglo Jesus is nie ten volle God nie, terwyl aanhangers van die gnostiek weer geglo het Hy is nie ten volle mens nie.
Hierdie gesprekke oor Jesus se identiteit was al aan die gang toe Hy op aarde was. Gedurig het godsdienstige leiers Jesus met hierdie einste vraag gekonfronteer. In Markus 8 vra Jesus vir sy dissipels wat hulle hieroor sê. Dan antwoord Petrus Hy is die Christus.
Deur die eeue heen sê die kerk Petrus se woorde getrou agterna. Ons kan egter so ortodoks wees soos wat ons wil oor hierdie kosbare belydenis, maar as dit nie tot konkrete verandering van ons ganse lewe lei nie, is ons gestrand. Peter Rollins sê enige ortodoksie wat slegs oor die regte geloofsbelydenisse besorg is, sal ons voltyds besig hou met die suiwerheid van ons interpretasies. Dis al. Hy gaan voort: "But orthodoxy, as believing the right way, as bringing love to the world around us . . . That will cost us everything." Inderdaad!
Uit die Woord
Wat baat dit, my broers, as iemand sê dat hy geloof het, maar hy het nie dade nie? Dié geloof kan hom tog nie verlos nie? As 'n broer of suster sonder klere en daaglikse kos is, en een van julle sê vir hulle, "Gaan in vrede, word warm en word versadig," maar julle gee nie vir hulle wat die liggaam nodig het nie, wat help dit? So is geloof alleen, as dit nie op dade uitloop nie, dood. - Jakobus 2:14-16













