Ons leef in ’n chaotiese wêreld. Hier word onskuldige vlugtelinge soos pionne deur oorlogsugtiges rondgeskuif. Hier word prokureurs wat die moed het om kriminele bendes te ondersoek goedsmoeds vermoor. Hier stry en baklei almal. Hier is dit elkeen vir hulself.
Is daar nog enige goeie mense oor? Miskien wil ons ook saam met die filosoof Diogenes (412-323 v.C.) helder oordag met ’n lamp rondloop. Toe Diogenes gevra is hoekom hy dit doen, was sy antwoord dat hy op soek is na ’n man. Hy het bedoel ’n eerlike man. Nêrens kon Diogenes so iemand raakloop nie, nie eens in die helder daglig nie.
Voordat ons moed opgee – daar is steeds baie goeie mense. Daar’s baie mense wat in Jesus se lig leef. Hulle soek nie net na ander goeie mense nie, hulle doen self goed. Hulle bid, deel kos uit, help, dien en doen wat nodig is.
Hulle gee nie moed op nie, want hulle weet die regte lig skrik nooit vir die donker nie. Hulle druk die donker terug op elke plek waar hulle kom.
Sien sulke mense raak. Maar wees self ook ’n goeie weerkaatser. Loop self in Jesus se lig.
Uit die Woord
As jy hulle wat honger is, jou empatie laat ervaar, die mens wat verdruk word, versadig laat word, sal jou lig in die duisternis skyn; jou donkerte sal soos helder dag wees. – Jesaja 58:10













