Miskien is daar een keer te veel in preke vir ons gesê ons doen te min vir die Here. Nou glo ons dit. Ons het opgegee om dit te probeer doen. Hierdie "algemene waarheid" dat ons die Here gedurig teleurstel en te min vir Hom doen, is immers so gewild as wat kan kom. Gedurig hoor jy dit.
Maar is dit waar? Wel, Romeine 8:4 kies om hiervan te verskil. Paulus skryf hier dat elkeen wat deur die Gees gelei word, voldoen aan die eise van die Here se wet. Sy voorskrifte is nie ondoenbaar nie. Dit is juis deel van die Heilige Gees se werk om ons te begelei tot gehoorsaamheid aan God. Geen wonder nie dat 1 Johannes 5:3 sê dis nie moeilik om God se gebooie te gehoorsaam nie.
Wanneer ons perspektief verskuif vanaf geloof as 'n stel ondoenbare wette na geloof as 'n lewende verhouding met die Here, raak dinge makliker. Dan raak geloof doenbaar. Dan is ons nie gedurig besig met godsdienstige prestasiemetings voor God nie. Dan leef ons reg uit dankbaarheid teenoor God, en nie uit plig nie. So raak geloof maklik.
Uit die Woord
Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees. - Romeine 8:4
Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, want enigeen wat 'n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. - 1 Johannes 5:3-4





















