Daar's te veel bloed in die Bybel, hoor ek iemand in 'n Amerikaanse TV-storie sê. Toe wonder ek of dié aktrise vergeet het wat haar eie planeet Hollywood in flieks en TV-stories aanvang. Eksplisiete oorlogstonele, wrede misdaadtonele en bloedbelope hospitaaltonele is daar aan die orde van die dag. Om nie van al die nuwe rekenaarspeletjies te praat nie. Om elke hoek en draai word kykers blootgestel aan bloed en rou geweld.
Ja, daar is ook bloed ter sprake in die Bybel. In die era van die Ou Testament het offers as plaasvervangers vir mense se oortredings gedien, asook as uitdrukking van hul dankbaarheid.
Die Nuwe Testament het egter 'n abrupte einde daaraan gebring met Jesus se offer aan die kruis. Sy offer was eens en vir altyd genoeg. Offers is nou oor en verby. Genoeg bloed het gevloei. Dit is afgehandel.
Nou is dit genadetyd. Nou leef ons vanuit die Here se goedheid. In die taal van die boek Hebreërs is Jesus nou ons voltydse hoëpriester wat namens ons intree by God. Hy pleit vir ons. Hy help ons. Hy sorg dat ons 'n binnebaan het al die pad tot by God se genadetroon.
Uit die Woord
Alhoewel Hy die Seun was, het Hy gehoorsaamheid geleer deur wat Hy gely het. En nadat Hy tot volmaaktheid gebring is, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige verlossing geword, aangesien Hy deur God aangewys is as "Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek". - Hebreërs 5:8-10
Die hoofsaak van wat gesê is, is dat ons só 'n Hoëpriester het: Een wat gaan sit het aan die regterkant van die troon van die Majesteit in die hemele, 'n bedienaar in die heiligdom, ja, in die ware tabernakel wat die Here, nie 'n mens nie, opgerig het. - Hebreërs 8:1-2






















