Paulus laat graag God se geheime uitlek. Hy doen dit nooit skelmpies nie. God verwag van hom om dit openlik te doen.
Een van die groot geheime wat Paulus in Efesiërs 3:1-6 uitlap, is dat God ’n nuwe aardse volk het. Sy nuwe volk het by die kruis ontstaan. Daar het Christus nie net sy lewe vir mense se oortredings opgeoffer nie. By die kruis het Hy ook die skeidsmuur tussen bestaande volke afgebreek en vir Homself ’n nuwe volk tot stand gebring. So vertel Paulus vertel vroeër in Efesiërs 2:11-22.
In God se nuwe volk het almal ewe veel toegang tot God se genadetroon. Hier is almal deur een Gees in een nuwe liggaam ingedoop, soos wat Paulus in 1 Korintiërs 12:13 skryf. Hier word almal gesamentlik en afsonderlik opgebou in hul geloof. Hier wen God se liefde. Hier staan die deure wawyd oop vir almal in nood.
Mag God se groot geheim ook in ons midde uitlek. Mag ons nie net God se geheim ken nie, maar mag ons verstaan wat dit beteken om hier in 2025 deel van God se nuwe aardse volk te wees. Mag ons dit ook verder oorvertel.
Uit die Woord
Die geheimenis is nie aan vorige geslagte onder die mensdom bekend gemaak, soos dit tans deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is nie, naamlik dat die heidene deur die evangelie mede-erfgename, medelede van die liggaam en deelgenote aan die belofte in Christus Jesus is. – Efesiërs 3:5-6
So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die heiliges, en lede van die huisgesin van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, met Christus Jesus self as hoeksteen. – Efesiërs 2:19
En ons is tog álmal deur die een Gees in een liggaam in gedoop – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk. – 1 Korintiërs 12:13













