Melaatsheid was in die eerste eeu 'n gevreesde siekte. Melaatses is as onrein beskou en uit die samelewing verban. Boonop is daar geglo melaatsheid is een of ander vorm van straf vir mense wat owerspel gepleeg het.
Wanneer melaatses naby gesonde mense gekom het, is daar van hulle verwag om hardop te skree: "Melaats, melaats!" Dan het almal haastig padgegee. Wel, almal behalwe Jesus het dit gedoen.
In Matteus 8 verneem ons van 'n melaatse wat hierdie veilige-afstand-reël oortree het. Hy het ongenooid in Jesus se spasie ingestap en voor Hom gekniel. "As U wil kan u my rein maak!" het hy gesmeek.
Pleks daarvan om met hom te raas omdat hy nie sy veilige afstand gehou het nie, of vinnig padgee, steek Jesus toe sy hand uit en raak aan hom. Om alles te kroon, het Jesus nie eens 'n waslap of 'n wet wipe byderhand gehad om sy hande te ontsmet nie. Sy hart het gebreek vir hierdie onreine. Toe het Hy dit in een oomblik weggevat.
By Jesus leer ek altyd van ontferming. By Hom leer ek dat "onveilige" afstande tussen mense regtig oorbrug kan word. Ook leer ek dat God se genade nie grense het nie.
Uit die Woord
"Gaan verkondig: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom.' Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf bose geeste uit. Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet." - Matteus 10:7-8





















