"Ontgogel" is 'n argaïese Afrikaanse woord. 'n Eietydse ekwivalent hiervoor is "ontnugter". Die HAT omskryf ontnugter as " 'n illusie ontneem". Dit gebeur as ons drome en ideale op niks uitloop.
W.H. Auden moes sulke ontnugtering beleef toe hy sy gedig "1 September 1939" met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog neergepen het. Te midde van al die donkerte en hooploosheid in en om hom roep hy uit: "We must love one another or die."
Toe gebeur dit nie. Toe verloor liefde. Toe wen haat. Bykans 80 miljoen mense het hul lewe verloor. Auden het egter vasgebyt.
Jare ná die oorlog het hy toe een woord in sy gedig verander: "We must love one another and die." Sy lewe het saam met sy gedig verskuif van "or" na "and".
Asaf, die skrywer van Psalm 73, was ook vir 'n wyle die gevangene van ontnugtering. Hoop het uit sy lewe weggeloop. Selfs sy geloof was op pad uit. Dit was toe hy gesien het hoe goed gaan dit met goddeloses. Hulle steel, laster en leef soos hulle wil, maar hulle raak net nog voorspoediger. Sy eie lyding het egter by die dag toegeneem.
Maar toe doen Asaf een goeie ding: Hy gaan na die Here se heiligdom toe. Toe gaan klop hy aan God se hemelse deur. Daar het God hom gevind, soos wat Hy steeds met opregte soekers maak, al is hulle ontnugterd en kleingelowig. Geen wonder nie dat Asaf dan Psalm 73 se laaste vers inlei met sy eie reël van hoop: "God se nabyheid is vir my goed." En dat hy ook nog hierby kan voeg dat God nou sy skuilplek en sy veilige vesting is.
Uit die Woord
Hoe swak van liggaam en van gees,
U sal my krag en sterkte wees
Niks anders het vir my méér waarde,
niks in die hemel of op aarde.
Dis goed om naby U te wees,
dan is daar niks om voor te vrees.
My hoop het ek op U gestel.
Ek sal van al u werk vertel.
- Psalm 73 vers 5 (T.T. Cloete-omdigting)






















