Sielsdinge

Stephan Joubert: Jesus kyk anders na ‘GOAT’

Johannes was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.
Johannes was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. ( Foto: Pixabay)

Jy ken daardie Engelse akroniem GOAT, oftewel Greatest of All Time. Wel, Johannes die Doper kwalifiseer hiervoor.

In Matteus 11:11 sê Jesus van alle mense wat op aarde gebore is, is daar niemand groter as hy nie. Nogtans het Johannes geen erg gehad aan enige vorm van erkenning nie.

In Johannes 1 word dit duidelik wanneer Joodse godsdienstige leiers Johannes onder kruisverhoor neem oor sy identiteit en werk.

Johannes sê dan hy is slegs Jesus se wegbereider. Trouens, Jesus is so belangrik dat hy wat Johannes is, nie eens die werk van ’n slaaf vir Hom kan doen deur sy skoene uit te trek nie.

Hy weet dat Jesus van nog altyd af die belangrikste is. Jesus is immers die Lam van God. Ook is Hy die Een wat mense met die Gees doop.

Johannes was ’n reus onder die mense. Hy was inderdaad die GOAT, maar dit was nooit sy identiteit nie. Johannes het sy vreugde daarin gevind om die kollig op Jesus te laat val.

Mag ons dieselfde doen. O ja, mag ons ook Matteus 11:11 se laaste woorde ontdek en raakleef. Hier sê Jesus dat selfs die geringstes in God se koninkryk nou groter as Johannes is. Nou is daar ’n nuwe GOAT-kategorie in Jesus se omgewing wat binne ons elkeen se bereik is.

Uit die Woord

Daar was ’n man, gestuur deur God, wie se naam Johannes was. Hy het tot ’n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom kon glo. Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. – Johannes 1:6-8

CTA