Dionusos, die antieke Griekse god van drank, vrugbaarheid en ekstase, was baie gewild. In mitologiese verhale het hy gedurig in menslike vermommings opgedaag. Sy voorkoms en uitspattige bewegings het sy identiteit elke keer verraai.
Dit het ook met ander gode gebeur wat in vermomde menslike gedaantes opgedaag het.
Die Romeinse digter Vergilius vertel in sy bekende werk "Aeneis" dat die Romeinse godin Venus iewers as 'n jagter opdaag, maar dit help nie, want mense herken haar aan haar goddelike geure en bewegings.
Hoe anders is Jesus nie. Markus verwys meer as 40 keer na sy haastige bewegings (by wyse van die bywoord euthus).
Dit sou Hom volgens antieke mense gediskwalifiseer het as 'n tipiese godheid. In daardie tyd het almal geweet slegs slawe beweeg gewoonlik baie vinnig. Vandaar die Latynse uitdrukking servus currens, die hardlopende slaaf.
Wel, dis presies hoe Jesus tussen ons opgedaag het. Die Koning van die hemel het in die gestalte van 'n haastige slaaf gekom om ons deur sy lewe te dien.
Nee, Jesus se nederige voorkoms en sy dringende bewegings was nie 'n verhoogrol wat Hy vir 30 jaar op aarde kom speel het nie. Dis wie Hy regtig is. Hy gee Homself enduit.
Ons volg in sy voetspore. Daar's 'n nuwe dringendheid in ons om God en ander te dien. Net soos Jesus talm ons nie om aanhoudend goed te doen nie.
Uit die Woord
Op pad Jerusalem toe het Jesus voor hulle uit geloop. Dit het die dissipels verontrus en die mense wat agterna gekom het, laat bang word. - Markus 10:32
Hoewel Hy in die gestalte van God was, het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie, maar Hy het Homself daarvan leeggemaak, deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. - Filippense 2:6-7













