'n Vriend vertel my van 'n taxibestuurder wat homself bekend gestel het met die vreemde naam Misfire.
Toe my vriend wou weet waar hierdie naam vandaan kom, vertel die taxibestuurder vanuit Zimbabwe hom dat terwyl sy ma hom verwag het, sy pa die slagoffer van 'n gewapende rooftog was. Die misdadigers het sy pa 'n laaste kans gegun om te bid voordat hulle hom sou doodskiet. Maar toe vuur die pistool nie.
Drie keer het een booswig tevergeefs die sneller getrek. Toe vlug hulle. Uit dankbaarheid het die pa sy kind toe Misfire benoem.
Sy naam herinner hulle familie aan die goedheid van die Here.
In die Bybel vertel mense se name ook allerhande stories. Isak se naam moes Abraham en Sara lewenslank daaraan herinner dat hulle vir God gelag het toe Hy beloof het hulle gaan 'n kind hê. Jakob se naam is op sy beurt in Israel verander nadat hy dapper met die engel van God geworstel het. Simon het Petrus geword nadat hy bely het dat Jesus die Messias is.
Hoe jy ook al benoem is, jy as gelowige word as 'n kind van God aangespreek. God self noem jou só. Leef altyd om hierdie kosbare nuwe identiteit na te streef.
Uit die Woord
Maar aan almal wat Hom aanvaar het, het Hy die reg gegee om kinders van God te word - hulle wat in sy Naam glo. - Johannes 1:12





















