Eenkeer luister ons na ’n oorsese spreker wat sy akademiese kennis op indrukwekkende maniere ten toon stel. Daarna het ’n ouer akademikus aan die beurt gekom.
Ná die tyd vertel iemand hy was teleurgesteld in hierdie ouer professor. Sy lesing was nie geleerd genoeg nie.
Toe vra ek hom of hy opgelet het wat daarna in vraetyd gebeur het. Toe die eerste akademikus verder uitgevra is, het sy geleerdheid blitsvinnig opgedroog. Die tweede akademikus het egter in vraetyd ’n goudmyn van nuwe insigte gedeel.
Presies dit is die verskil tussen kennis en wysheid. Kennis beïndruk, maar wysheid bring insig.
Kennis is altyd noodsaaklik. Maar kennis wat nie met wysheid deurdrenk is nie, is uiteindelik arrogante, dooie kennis.
Paulus onderstreep hierdie einste punt in 1 Korintiërs 8 wanneer hy die vraag takel of gelowiges kos mag eet wat vooraf aan afgode gewy is. Hy roep hulle dan op tot meer as net die regte kennis. Spesifiek gaan dit vir Paulus hier oor kennisdeurdrenkte wysheid. Dit gaan oor liefde wat mekaar opbou.
Hoor net hoe beskryf hy dit in vers 1 (NNT-vertaling): “Oppas: Kennis blaas ons op. Dit maak ons oorvol van onsself. Maar liefde bou ons op. Dit maak dat ons mekaar versterk in ons geloof.”













