Stephan Joubert: Kyk net hoe het ons verander . . . en dieselfde gebly

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Illustrasie: Getty Images
Illustrasie: Getty Images

Op 'n goeie dag, nie te lank gelede nie, is jy as 'n volksverraaier en 'n weghardloper beskou as jy geëmigreer het. Toe breek vandag aan. Vandag is daar fout met jou as jy steeds in Suid-Afrika wil bly. Nou moet jy jou keuse om te bly motiveer terwyl die res wil emigreer.

Op 'n goeie dag, nie te lank gelede nie, is jy vreemd aangekyk as jy dit sou waag om die kerk te kritiseer. Toe breek vandag aan. Nou is daar fout met jou as jy die kerk nie veroordeel, kritiseer of afskiet nie. Nou moet jy jou keuse om in die kerk te bly motiveer terwyl die res padgee.

Op 'n goeie dag, nie te lank gelede nie, was dit verkeerd om te vloek en afbrekend oor ander te praat. Toe breek vandag aan. Nou is jy uit as jy nie tien kragwoorde per uur gebruik nie. Nou moet jy jou keuse om opbouend te praat motiveer terwyl die res hul mond op elke moontlike plek uitspoel.

Vandag is hier. Vandag met al hierdie nuwe idees, gebruike, praktyke, instellings, modes, menings . . . Is dit sleg of goed? Wie sal weet?

Wat ek wel weet, is dat al draai die wêreld rondomtalie, vind ek steeds my hoop in Hom wat altyd is wie Hy is. God is altyd liefde. Hy is altyd goed en vol ontferming. En Jesus se kruis bied altyd redding. En die Gees bied altyd krag en nuwe lewe. Daarom leef ek vandag vreugdevol en koersvas te midde van al die veranderinge. God se koers is steeds dieselfde.

Uit die Woord

Hoe gelukkig is die mense wie se lewenspad onberispelik is en wat die wet van die Here volg! Hoe gelukkig is hulle wat sy bepalings nakom, wat Hom met hulle hele hart soek; wat ook nie onreg doen nie, maar net sy paaie volg! - Psalm 119:1-3

SPELETJIES VANDAG

CTA