Ons almal laat afdrukke agter. Meestal is dit vingerafdrukke. Ons laat egter meer as fisieke afdrukke agter. Ons laat ook herinnerings agter.
Soms is hierdie afdrukke pynlik. Iewers langs die lewenspad het ons ander mense seergemaak en goor behandel. Soms weet ons dit, maar soms ook nie. Hoe dit ook al sy - sover dit van ons afhang, moet ons dinge weer regmaak. Die Here vra dit van ons.
Om afgebrande brûe te herbou is altyd die regte ding om te doen. Dit is om verkeerde afdrukke met die regte soort te vervang.
Genadiglik laat ons derduisende goeie afdrukke op mense agter. Sonder dat ons dit eens weet, het 'n vriendelike woord of 'n klein daad van hulp op die regte tyd mense se laste sommer baie ligter gemaak. Ander kere was dit net ons daar wees wat die nodige verskil gemaak het. Of 'n gebed. Dit is die regte afdrukke. Dit is die regte impak wat die Here van ons vra.
Goddank dat sulke afdrukke ons lewe kenmerk. Kom ons maak vandag nogmaals die regte afdrukke.
Uit die Woord
"Laat julle lig só voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, kan verheerlik."
"En wanneer jy jou offergawe na die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat jou offergawe net daar by die altaar en gaan versoen jou eers met jou broer, en gaan gee dan jou offergawe." - Matteus 5:16 en 23-24






















