'n Predikantsvriend vertel onlangs van Nakyuama Hakudo, 'n beroemde Samoerai-kryger. Hy kon sy swaard blitsvinnig uitpluk tydens gevegte.
Toe hy een keer gevra is hoe hy dit regkry, het hy gesê hy oefen 2 000 keer per dag om dit te doen. Elke sewende dag het hy dit selfs 10 000 keer ingeoefen.
Sonder die nodige oefening wat enigiets in die lewe betref, is ons gestrand. Dit geld ook vir ons geloof. Paulus gebruik juis die Griekse woord gumnatsein vir oefen as hy vir Timoteus die volgende skryf: "Oefen jouself aanhoudend daarin om 'n Godvresende lewe te leef" (1 Timoteus 4:7).
Almal verstaan die beginsel van oefening as dit oor dinge soos sport en fiksheid gaan. Maar as dit by geloof kom, vergeet ons dit blitsvinnig. Ons vergeet ons moet volharding, medelye, geduld en naasteliefde aanhoudend inoefen. So nie, gaan ons geestelik onfiks wees. Dan gaan ons opgeskeep sit met goor gewoontes wat ons gedurig uitknikker.
Kom ons volg Paulus se opdrag aan Timoteus na. Kom ons sluit aan by die Here se gimnasium en kies om ons geloof te oefen, oefen, oefen.
Uit die Woord
Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe. Om jou liggaam te oefen, het wel 'n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat 'n belofte van lewe, vir nou en die toekoms. - 1 Timoteus 4:7-8













