William Blake (1757-1827) het gesê: “As a man is, so he sees.” Dis waar. Ons sien wat ons verwag om te sien. Die lense van ons hart en ons verstand bepaal hoe ons kyk en wat ons eerste raak kyk.
As moeilikheid en slegte nuus op die voorgrond van ons lewe is, gaan ons dit eerste raaksien. En andersom.
Dit verg ’n nuwe hart om anders te kyk en anders te sien. Vra vir Paulus. Toe hy in Handelinge 9 in Jesus vasgeloop het op die pad na Damaskus, was hy drie dae lank blind. Daarna het hy weer begin sien. Maar hy het anders gesien. Hy het die Here raakgesien, nie donkerte en moeilikheid nie.
Dit verg geloof en inoefening om die Here eerste raak te kyk en om sy goedheid in mense se lewe raak te sien. Tereg skryf Georgia O’Keeffe: “It does not come easily to us, true noticing – that transmutation of looking into seeing. We must apprentice ourselves to it daily. It is our life’s work.”
Ons moet elke dag vra vir daardie oogsalf van Jesus wat Hy in Openbaring 3 vir die kerk in Laodisea aangebied het. Hy leer ons om hartlangs eerste te sien. Hy leer ons om God se goedheid eerste raak te kyk.
Uit die Woord
“Dit sê die Amen, die getroue en ware getuie, die begin van God se skepping: ‘Ek ken jou dade, dat jy nóg koud, nóg warm is. Was jy nou maar koud of warm! Maar omdat jy louwarm is – nóg warm, nóg koud – gaan Ek jou uit my mond spoeg. Omdat jy sê “Ek is ryk, ek het skatryk geword, en het aan niks gebrek nie,” en nie besef dat jy ellendig en bejammerenswaardig, brandarm, blind en naak is nie, raai Ek jou aan om by My goud te koop wat deur vuur gesuiwer is, sodat jy ryk kan wees; en wit klere, sodat jy jou kan aantrek, en die skaamte van jou naaktheid nie sigbaar word nie; en salf om aan jou oë te smeer, sodat jy kan sien.’ ” – Openbaring 3:14-18













