Robert Kennedy jr., Amerikaanse minister van gesondheid, se openbare opmerkings op 29 Maart oor die voorkoms van die Republikeinse goewerneur van Wes-Virginië, Patrick Morrisey, het opslae gemaak. Hy het vertel toe hy Morrisey vir die eerste keer gesien het, het hy vir hom gesê: "You look like you áte Governor Morrisey." Onder applous het Kennedy toe 'n spesifieke dieet en 'n maandelikse openbare inweegsessie vir Morrisey voorgestel.
Dit is noodsaaklik om reg te eet en om gereeld te oefen. Nogtans is nie almal van ons ewe geseënd met 'n vinnige metabolisme of met die nodige gesondheid en innerlike wilskrag om getrou te oefen nie. Ons weet intuïtief ons moet ons liggame mooi oppas tot eer van die Here, maar vir sommige gebeur dit makliker as vir ander. Daarom verkleineer ons ander mense nooit oor hul voorkoms of eetgewoontes nie. Dit pas nie by gelowiges om met ander die spot te dryf nie. Ons help waar ons kan om mekaar te ondersteun om gesond te leef. Ons bou mekaar op. Ons moedig mekaar aan. Ons is ook saam met mekaar dankbaar oor elke stukkie vordering op die pad na goeie leefgewoontes.
Uit die Woord
Nie 'n enkele afbrekende woord moet uit julle mond kom nie, maar eerder 'n woord wat goed is vir noodsaaklike opbou, sodat dit voordeel mag bring vir diegene wat dit hoor. - Efesiërs 4:29






















