Stephen Langton het teen die jaar 1227 hoofstuk-indelings in die Latynse Bybel gemaak. Hierdeur wou hy mense se lees van die Bybel vergemaklik. In 1551 wou Robert Estienne dit selfs makliker maak toe hy verse in sy Griekse uitgawe ingevoeg het. Sedertdien is elke Bybel behoofstuk en bevers.
Die dilemma met hierdie hulpmiddels wat sedert die 13de eeu in die Bybel aangebring is, is dat dit baie mense in verskenners verander het in plaas van verhaalkenners. Mense het die verhale verloor waarin Bybelverse ingebed is. Die groter temas wat in Bybelverse aangeroer word, is verloor. Wat 'n reuseverlies, een wat onnoembare skade aan die Bybel en aan mense se geloof berokken het.
'n Hoogs gefragmenteerde Bybel het hier in ons dag oorgebly. Baie mense se Bybels bestaan tegnies net uit 'n klomp losstaande verse, Bybelverse wat lukraak aangehaal en na willekeur gebruik word. Bybelverse het nuwe betekenisse gekry het wat dit nooit in die Bybelboeke self gehad het nie. Kortom, ons het die Bybel verloor.
Die regte roete is om weer die Bybel in verhaalvorm te lees soos wat dit oorspronklik geskryf is. Soos wat die Amerikaanse teoloog Leonard Sweet sê: Ons moet die Bybel weer "storify, not versify!" Ons moet opnuut die verhaal in elke Bybelhoofstuk ontgin. Ons moet die stories leer ken en vertrou. Ons moet Bybelverhale outentiek aan die woord laat kom sonder om gedurig 'n paar gunstelingverse daaruit te kies en die res te ignoreer. Ons moet Bybelverhale soos narratiewe flieks lees. Ons moet dit ons eie maak as die normatiewe verhale waarin ons leef en waaruit ons leef. Dan beleef ons die Bybel opnuut as God se lewende Boek met lewensveranderende verhale.
Uit die Woord
" 'n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom." - Matteus 4:4




















