Die Engelse term click bait word in Afrikaans met klikstrik vertaal. Dit is daardie sensasiegedrewe opskrifte, tekste of digitale trekpleisters wat ons aanmoedig om op die een of ander skakel te klik.
Meestal wemel sulke skakels se inhoud van blatante fopnuus of halwe waarhede wat mense blindelings glo en verder deel.
Van klikstrikke gepraat – ek wonder of dit ’n klikstrik is wanneer party mense sê: “God is eerste in my lewe.” Party besigheidsprofiele en sommige bekendes benut dit graag, maar sonder om enige pogings aan te wend om dit te bewaarheid. “God eerste” is soms net leë, manipulerende woorde.
Nou ja, sulke klikstrikkers mag ons nie in skeptici verander wat almal se woorde en bedoelings by voorbaat betwyfel nie. As ons eerlik is met onsself, leef ons ook nie elke dag op die Here se peil nie.
Kom ons aanvaar dus dat dit partykeer tyd verg vir regte vrugte van geloof om vorm aan te neem in ons lewe. God is geduldig met ons. Ons skuld ander mense ook genade. Maar dit gee nie aan enigeen van ons die reg om godsdienstige klikstrikkers te wees nie.
Uit die Woord
“Nie elkeen wat vir My sê ‘Here, Here’ sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele.” – Matteus 7:21













