Dit was die filosoof René Descartes (1596-1650) wat gesê het ons wil graag god speel, maar ons kry dit nie eens reg om mens te speel nie.
Jesus leer ons om dit andersom te doen. Terwyl almal gode wil wees, het Hy gekies om mens te word. Dit was geen akteursrol nie. Jesus het regtig geweet hoe dit voel om honger en dors te wees. Daar was geen geheime kospakkies wat daagliks uit die hemel by Hom afgelewer is nie. Of ’n hemelse Uber wat Hom vinnig tussen verskillende plekke gekarwei het nie. Jesus moes stap na elke plek waar Hy moes wees. Party nagte was die klippe in die veld sy kopkussings.
Tussendeur het Jesus ook intense emosies beleef – soos sy woede en verslaentheid teenoor godsdienstiges wat Hom aangevat het omdat Hy ’n sieke op ’n sabbatdag genees het. Of sy groot hartseer toe Hy voor sy vriend Lasarus se graf gestaan het.
By Jesus leer ons ook wat egte menswees is. Ons leer by Hom van medelye, hartseer en pyn. Ons leer by Hom hoe om regtig te leef. Ons doen dit nooit op selfsugtige maniere nie. Jesus leer ons hoe om ’n lewende seën vir God en ander te wees.
Uit die Woord
Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word. Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword.
Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.”
Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe: ‘ ’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom.’ ” – Matteus 4:1-4













