Sielsdinge

Stephan Joubert: Ons leef in Jesus se kunsateljee

Group of diverse people profile view hand drawn silhouettes talking
Group of diverse people profile view hand drawn silhouettes talking (Foto: Getty Images)

Ons is deur Jesus genooi om binne sy verhaal te leef. Ons vergoddelik nooit ons eie storie nie. Ons leef en skryf nie glansryke outobiografieë oor ons eie suksesse en prestasies nie.

Jesus se opofferende lewe is ons voorbeeld, ons padkaart, ons bladmusiek en ons lewensteks. Hierbinne vind ons ons identiteit en ons padwysers.

Jesus nooi ons graag in sy kunsateljee in om ons lewenstorie anders te beskilder. Hier leer ons hoe om sy verfkwas te gebruik. Hier leer ons hoe om die regte genadekleure op ons verfpalet te meng en hoe om dit op outentieke maniere in ons eie lewe te gebruik.

Ons gebruik graag die helder verfkleure van Jesus se liefde en vreugde. Ons gebruik ook die verfkleure van medelye om mense se nood konkreet te benader en uit die pad te verf.

Terselfdertyd gebruik ons Jesus se brugbouende liefde as ons vernaamste verfkwas wanneer ons tussen stryendes en bakleiendes is. Dan beskilder ons sulke omgewings met sagte woorde wat die woede laat bedaar ... en met vergifnis. Nooit hou ons op om Jesus se nuwe narratief te leef en sy nuwe verfkleure te gebruik om die wêreld rondom ons anders te beskilder nie.

Uit die Woord

Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. – Filippense 2:6-7