Die eindtyd is groot nuus. Of moet ek eerder sê bangmaaknuus.
Dit moes nooit só gewees het nie. Pleks dat ons geluister het wat Paulus hieroor in 2 Tessalonisense 2:2 skryf: “Moenie so maklik van koers afgegooi word in julle gedagtes nie. Moenie so gou omgekrap word deur enige openbaring wat van die Gees af sou kom nie.”
Teen my sin is ek gedurig met ’n hemelse wegraping in September gekonfronteer. Sulke gesprekke en video’s is nie in my kraal nie.
Sedertdien hoor ek almal wat dit geglo het, het dit goed bedoel. Dit maak blykbaar nie saak op watter dag sulke apokaliptiese ingrypings gebeur nie, solank mense net glo en mekaar nie veroordeel nie. Ook is ek wysgemaak dit het ’n geestelike ontwaking gebring.
Dis toe dat ek wonder: Van wanneer af is goeie bedoelings die norm vir goeie Bybelverstaan? Wat van God se eer? Moet Hy dan nou jok om mense tot inkeer te bring? Wat van Jesus wat gesê het niemand weet wanneer die dag van die Here aanbreek nie? Of die res van die Nuwe Testament wat sê dit kom onverwags, soos ’n dief in die nag? Wat van Deuteronomium 18 en Jeremia 23 se ernstige waarskuwings?
Kan ons sê wat ons wil oor die Bybel, solank ons dit goed bedoel? Dan kan onderwysers mos dieselfde doen as hulle besluit een plus een is drie. Dan kan dokters en ingenieurs hul handboeke weggooi, solank hulle net opregte bedoelings het.
Dis ons elkeen se keuse om die Bybel reg en verantwoordelik te lees, of om dit te lees soos ons wil. Albei roetes het ingrypende implikasies!
Uit die Woord
“Die Here het toe vir my gesê: ‘... Maar die profeet wat so vermetel is om ’n woord in my Naam te sê wat Ek hom nie beveel het om te sê nie, of wat in die naam van ander gode praat – daardie profeet moet sterf.’
“En as jy jouself sou afvra: Hoe sal ons weet watter woorde het die Here nie gesê nie? As dit wat ’n profeet in die Naam van die Here sê, nie gebeur nie en daar kom niks van nie, dan is dit woorde wat die Here nie gespreek het nie.” – Deuteronomium 18:17 en 20-22













