Toe iemand sê hulle het hul huis met olie gesalf en die kruis se bloed oor elke kamer geproklameer, was ek onkant gevang.
"Dit klink alte veel na ou Grieks-Romeinse towerkuns," het ek my gevoelens oorhaastig verwoord.
Van seënbedes gepraat: Wanneer Jesus sy dissipels in Matteus 10:12-13 uitstuur, sê Hy vir hulle om 'n seënwens uit te spreek oor daardie huise waar hulle gaan oorbly. Maar Jesus verduidelik vir hulle die doel daarvan: "As julle in 'n huis kom, groet die mense vriendelik deur te sê dat God vir hulle goed sal wees en hulle in vrede sal leef. As die mense julle vriendelik verwelkom, moenie julle woorde terugtrek nie. Wanneer hulle julle egter ongeskik en onvriendelik ontvang, moet julle julle woorde terugtrek." (NNT).
Om 'n huis te seën, is om God se goedheid oor al die inwoners af te bid. Dis 'n seënbede, nie 'n magiese handeling om God deur proklamerings en rituele te verplig om ons eiendom te beskerm nie. Natuurlik mag ons God daarmee vertrou, maar ons doen dit in geloof, soos wat ons met die res van ons lewe doen.
Uit die Woord
"Watter huis julle ook al binnegaan, sê eers, ‘Vrede vir hierdie huis!' As daar 'n vredeliewende mens woon, sal julle vrede op hom rus, anders sal dit na julle terugkeer." - Lukas 10:5




















