Stephan Joubert: Sendeling, nooit ellendeling

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die son kom op oor die rooiduine van die Kalahari. Foto: Anena Burger
Die son kom op oor die rooiduine van die Kalahari. Foto: Anena Burger

God se koninkryk is baie groter as die kerk. Dit is nie sinoniem met plaaslike gemeentes nie. Op tienduisende ander plekke is die Here ook werksaam. Nou die dag beleef ek dit opnuut terwyl ek saam met 'n egpaar kuier wat in die Kalahari vir Hom aan diens is. Hulle noem hulself sendelinge, en nie ellendelinge wat gedurig bakhand staan nie. Hulle finansier hul eie bediening en leef met 'n vreugde in die Here wat ek lank laas raakgesien het. Hulle help onder meer kindertjies met leerprobleme om beter te lees, hulle doen Bybelstudies vir jong mense, ondersteun drankverslaafdes, hou teepartytjies vir minderbevoorregtes en vertel Kalahari-stories oor die Here se werk wat met hoop deurdrenk is.

Die Here het regtig nie al die geleerdes en die vernames van ons wêreld nodig om sy mooi werke te doen nie, soos wat Paulus in 1 Korintiërs skryf. Ook het Hy nie net suksesvolle kerke en byeenkomste hiervoor nodig nie. Ja, God gebruik enigeen wat in sy diens aanmeld, maar Hy werk graag ook stilweg met gewone mense. Hy laat sy koninkryk gebeur in en deur elkeen wat aktief aanmeld as 'n sendeling. Dan verdamp alle ellendigheid.

Uit die Woord

Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. - 1 Korintiërs 1:26-28

SPELETJIES VANDAG

CTA