Geleerdes praat van toksiese positiwiteit wat nadelig is vir ons geestesgesondheid. Dit gebeur wanneer negatiewe gevoelens gedurig ontken of onderdruk word.
Enige vorm van kunsmatige positiwiteit is ongesond. Maar dit is nie die grootste probleem van ons tyd nie. Ons leef in 'n wêreld wat so oorbewus is van individue se issues en benadeeldheid dat dit onnatuurlik geraak het om te sê jy is gelukkig en uitgesorteer. Of om te sê jy is nie oorwerk, uitgebrand, bekommerd, angstig of gestres nie.
Praat jy te positief, word jy vreemd aangekyk asof jý die toksiese een is. Iewers het ek dit beleef toe 'n onbekende my vra hoe gaan dit. "Baie goed," het ek geantwoord. "Maar hoe gaan dit regtig met jou?" was die opvolgvraag. "Ek het nie die eerste keer gejok nie," was my reaksie. "Jy's tog nie ernstig nie," moes ek toe ervaar.
Almal is deesdae stukkend of verwond. Die kerk wemel ook van sulke taal. Wel, dis darem nie onwaar nie. Maar moet dit regtig ons fokus wees? Moet ons so besig wees met ons eie gebrokenheid dat ons vergeet het ons is geroep om mekaar te begelei na die Here se kant van die waarheid toe? Moet ons sy vrymakende kant onderspeel ten koste van almal se stories van stukkendwees?
Wanneer Jesus se verhaal ons s'n word, maak ons stukkende stories plek vir syne. Dan word ons deel van God se ruimer verhaal waar die klem verskuif van ons gebrokenheid na Jesus se voltydse goedheid. Dan luister ons al hoe meer na Hom sodat ons in sy blydskap kan leef en sodat sy blydskap in ons volkome kan wees (Johannes 15:9). Dan raak ons voltyds bly.
Uit die Woord
"Net soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Bly dan in my liefde. As julle my gebooie onderhou, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader gehoorsaam het en in sy liefde bly. Dit het Ek vir julle gesê, sodat my blydskap in julle kan wees, en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my gebod: Julle moet mekaar liefhê, net soos Ek julle liefgehad het." - Johannes 15:9-12





















