Gaan stem voor dit reën in Wes-Kaap

Wes-Kaapse kiesers moet Woensdag hul kruisies eerder vroeg as laat gaan trek - vir ingeval dit reën.

Politieke partye het Dinsdag dié boodskap vir inwoners van die Wes-Kaap gehad op die vooraand van die sesde nasionale en provinsiale verkiesing.

Reën word op stemdag in die Wes-Kaap verwag.

Daar is Woensdag 'n 60%-kans op reën en donderweer in die Suid-Kaap, Karoo en die Oos-Kaap.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gesê erge donderstorms met die moontlikheid van hael kan Dinsdagaand tot Woensdagoggend nog in die oostelike dele van die sentrale Karoo en Klein-Karoo voorkom.

Alan Winde, DA-premierskandidaat, wat die afgelope drie dae 30 gemeenskappe in die Wes-Kaap as deel van die party se verkiesingsveldtog besoek het, het op sosialemediaplatforms mense aangemoedig om vroeg te gaan stem.

"Die weer maak 'n verskil. As dit koud en nat is kan mense dalk nie kom stem nie. Stem vroeg en kry dit agter die rug voordat die weer sleg raak. Die Wes-Kaap word hewig betwis, maar ons gaan alles uithaal. Ons het karre en taxi's gereël om mense aan te ry na die stempunte waar hulle aangedui het hulle benodig vervoer."

Winde was Dinsdagmiddag "stil optimisties" dat die DA goed sal vaar in die provinsie. "Ons was regtig óral in die provinsie. Ons sal Woensdag tot 21:00 wanneer die stempunte sluit, mense oortuig om te gaan stem. Elke stem tel en ons sal buite wees om kiesers aan te moedig," het hy gesê.

Dennis Cruywagen, provinsiale woordvoerder van die ANC, het 'n soortgelyke boodskap gehad. "Ons wil graag hê mense moet so vroeg as moontlik gaan stem sodat dit agter die rug is as dit begin reën. Daar is vervoerplanne om mense by te staan ingeval van slegte weer. As ons verandering in die provinsie wil sien, is dit uiters belangrik dat soveel as moontlik van ons ondersteuners moet gaan stem."

Volgens Cruywagen is alle aanduidings dat die ANC in die Wes-Kaap op sy vorige vertoning by die stembus gaan verbeter. "Die peilings wys verskillende moontlikhede, maar die werklike toets gaan by die stembus wees."

Nazier Paulsen, lid van die EFF se hoofbestuurskomitee, het Dinsdag gesê "die reën kan nooit die revolusie keer nie, dit sal voortgaan."

"Die party het voertuie beskikbaar gestel om mense van en na die stempunte te neem. Ons eerste prys is om te wen. Die tweede prys is om te verseker dat die DA onder 50% van die stemme in die Wes-Kaap behaal. Ons het baie hard gewerk om stemme te probeer werf en glo dat die mense van die Wes-Kaap die DA sal sien vir wat hy is.

"Ons het groei regoor die metropool gesien, veral onder jong mense - studente by hoër onderwysinstellings. Ons het nou die gulde geleentheid om die Wes-Kaap uiteindelik na die post-apartheid era te neem deur die DA te laat kantel."

Ralph Mathekga, politieke ontleder aan UWK, het op 'n vraag oor hoe groot 'n faktor opkoms in die verkiesing gaan wees, gesê dit gaan oor watter partye se kiesers nie opgedaag het nie. "Die meeste kiesers wat in vorige verkiesings nie opdaag het nie, was ANC-lede. Opposisiepartye is gewoonlik goed daarmee om hul kiesers by die stempunte te uit te kry." Tradisionele ANC-kiesers neem volgens hom tyd voordat hulle hul stempatrone verander.

SPELETJIES VANDAG

CTA