Nóg 'n politieke party wil die verkiesingsuitslag in die kieshof betwis.
Die African Transformation Movement (ATM) het Woensdag aangekondig dat hy 'n "beslissende stap gedoen het om verkiesingsintegriteit en -geregtigheid te verseker deur hofdokumente by die kieshof in te dien".
Vuyo Zungula, ATM-president, sê hy wil die hof vra vir die "behoorlike oorweging van bewerings van wangedrag teen die voorsitter van die Verkiesingskommissie (OVK)" en wil die regverdigheid van die algemene verkiesing van 29 Mei betwis.
Die ATM sal ook eis dat die verkiesing weer gehou moet word.

Zungula benadruk in sy verklaring dat die ATM nie betrokke is by die versoek wat 'n groep opposisiepartye vroeër aan hoofregter Raymond Zondo gerig het om die huidige gesprekke of onderhandelinge vir die samestelling van 'n regering van nasionale eenheid te fasiliteer nie.
"Die ATM bly daartoe verbind om die beginsels van demokrasie te handhaaf en om te verseker dat die stemme van alle Suid-Afrikaners gehoor en gerespekteer word."
Die ATM het in die algemene verkiesing 0,4% van die nasionale steun en twee parlementêre setels verower.
Zungula en die ATM was in die vorige termyn van die vurigste kritici van pres. Cyril Ramaphosa en het selfs 'n mosie van wantroue in die parlement teen hom ingedien en hom amptelik by die openbare beskermer verkla oor die Phala Phala-sage.
Hy het Woensdag in sy verklaring gesê die ATM het die "ernstige bewerings" wat adv. Winston Erasmus, 'n voormalige ANC-navorser in die Wes-Kaapse wetgewer, in 'n beëdigde verklaring van 9 Mei gemaak het, by sy hofstukke ingesluit. Die party voer aan dat die "OVK-voorsitter met die ANC saamgesweer het om die ATM se deelname aan die demokratiese proses te ondermyn, insluitend pogings om die party te deregistreer en om die verkiesingsuitslag te manipuleer".
Die ATM sê hy het sy regsverteenwoordigers opdrag gegee om regstappe te begin om die regverdigheid van die verkiesing te betwis.
In die hofstukke word uiteengesit waarom die geloofwaardigheid en onpartydigheid van die OVK in sy toesighouding oor die verkiesing in twyfel getrek word, sê hy.
"Die gedokumenteerde onreëlmatighede en teenstrydighede wat in vanjaar se algemene verkiesing waargeneem is, dui sterk daarop dat die OVK van sy mandaat afgewyk het wat sy vermoë om regverdige verkiesings te administreer, in gevaar gestel het. Dit is duidelik dat die OVK se optrede gelei het tot vermoedens van kieserbedrog en stemknoeiery, wat die grondslag van demokrasie in ons land ondermyn."



















