EFF kelder homself met onredelike eise

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

"Onredelike en arrogante" vereistes deur die EFF het uiteindelik die Gautengse ANC laat besluit om eerder soos hul nasionale leiers 'n "regering van provinsiale eenheid" saam met die DA en die IVP te stig.

Rapport verneem dat die EFF se onderhandelaars die ANC onder meer gevra het vir die pos van LUR vir finansies in Gauteng, asook die pos van provin­siale speaker.

Daarby het die party vir 'n verdere vier LUR-poste gevra.

"Dit was duidelik dat die EFF met ons wou onderhandel met 'n vuurwapen teen ons kop. Ons provinsiale leiers wou nie dit doen nie," sê 'n ANC-bron in Gauteng wat gemoeid was met die gesprekke.

Thami Ntuli, die nuwe premier van KwaZulu-Natal. Foto: Darren Stewart
Thami Ntuli, die nuwe premier van KwaZulu-Natal. Foto: Darren Stewart

"Hul versoeke was onredelik en arrogant. Hulle het maar 13% van steun in die provinsie gekry en sou nie eens vir ons 'n meerderheid kon gee nie." Die ANC het 35% van die steun in Gauteng gekry - 'n daling van 15 persentasiepunte sedert 2019.

Om hul goeie trou aan hul nuwe koalisievennote te wys, het die ANC ingestem om hul plaaslikeregeringsooreenkomste met die EFF te verbreek.

Hierdie ooreenkomste is verlede jaar beding deur Panyaza Lesufi, ANC-leier in Gauteng, en die EFF se nasionale leierskorps. Dit is wyd en syd gekritiseer, veral op plaaslike vlak in Johannesburg en Ekurhuleni.

Nkululeko Dunga, provinsiale voorsitter van die EFF, was Woensdagaand die eerste slagoffer toe hy as burgemeesterskomiteelid vir finansies in Ekurhuleni verwyder is.

Kabelo Gwamanda, Al Jama-ah-burgemeester van Johannesburg, sal glo die volgende wees. Hy sal deur 'n wantrouemosie verwyder word.

Ná Dunga se verwydering het Julius Malema, EFF-leier, die ANC gedreig dat sy EFF-raadslede hul steun aan alle plaaslikeregeringsooreenkomste sal onttrek. Hy wou onder meer hê dat Dunga onmiddellik in sy pos heraangestel word.

Die ANC het nie aan die dreigement gehoor gegee nie, 'n teken dat die koeël­ deur die kerk was vir die EFF.

Lesufi is eindelik Vrydag onbestrede herkies as Gautengse premier. 'n DA-LPW, dr. Mike Moriarty, het hom genomineer. Die ANC se Morakane Mosup­yoe is tot speaker verkies, en die DA se Refiloe Nt'sekhe tot adjunkspeaker.

Ook in KwaZulu-Natal moes die ANC, wie se steun in hierdie provinsie gesak het van 54,2% in 2019 tot net 17% vanjaar, ook 'n toegewing aan sy nuwe koalisievennote doen.

Mxolisi Kaunda, ANC-burgemeester van eThekwini, is na die nasionale raad van provinsies herontplooi, oënskynlik omdat die DA gesê het hy sal 'n koalisieregering alleenlik steun as Kaunda verwyder word.

Die IVP (15 setels), die ANC (14), die DA (11) en die NFP (1) het uiteindelik oudpres. Jacob Zuma se MK-party (37) en die EFF (2) met 41 stemme teenoor 39 geklop om 'n provinsiale regering te vorm.

Regering van plaaslike eenheid?

Rapportverneem by partybronne binne die ANC en die DA dat die toegewings op provinsiale vlak uiteindelik kan lei tot groter samewerking in metro's.

Dit beteken dat die ANC, DA en die IVP soos op nasionale vlak ook die regering kan oorneem van metro's soos Johannesburg, Ekurhuleni, eThekwini en Nelson Mandelabaai.

Die besonderhede van die ooreenkomste moet nog uitgestryk word, maar wantrouemosies in die leierskorps van Johannesburg word glo reeds beplan.

SPELETJIES VANDAG

CTA